← Sport

· Deur Koerania-redaksie

Comrades 99 in ‘n uitdagende sakkie

Christo Müller en Wayne McDermitt het vanjaar weer Orania se naam hoog gehou tydens die 99ste Comrades Marathon wat op Sondag 14 Junie aangebied is.

Comrades 99 in ‘n uitdagende sakkie – foto 1

Christo Müller en Wayne McDermitt het vanjaar weer Orania se naam hoog gehou tydens die 99ste Comrades Marathon wat op Sondag 14 Junie aangebied is. Wayne het nie sy beste resies ooit gehardloop nie, maar vertel dat hy tevrede is dat hy wel die wedloop in ‘n goeie tyd van 9:48:50 voltooi het. “Dit was warm en seer, en my beste tyd vir die Op hardloop.” Christo het vanjaar swaar gekry en sy beenspiere het hom opdraende gegee. “Dit was nie my dag nie en dit was erg om deur daardie pyn ‘n 11:20 te hardloop.” Hy noem dat hy beslis meer heuwels moet hardloop om die spiere te versterk vir 2027 se 100ste feesvieringe. Karin Müller, wat gewoonlik saam met haar man die wedloop aandurf het ongelukkig vanjaar misgeloop, maar sal alles in die stryd werp om in 2027 deel te wees van die duisende fikse atlete. In ’n dramatiese dag van rekords breek, is die louere vir die eerste plekke in die 2026 Comradesmarathon deur die Suid-Afrikaners George Kusche en Gerda Steyn ingepalm. Met ’n roete van 85,777 km lank – wat 133 meter korter as in 2024 was en die kortste roete-afstand in die aangetekende geskiedenis vir die ‘Op’-loop – is daar verwag dat vanjaar se wedloop vinnige tye, moontlik selfs rekords, sou oplewer, en dit het behoorlik daaraan voldoen. Albei wenners het die wenstreep in nuwe rekordtye oorgesteek en sodoende hul name in die geskiedenisboeke geskryf, terwyl hulle terselfdertyd massiewe prysgeld ingepalm het in dié 99ste uitgawe van The Ultimate Human Race, en die 50ste uitgawe van die ‘Op’-loop vanaf Durban na Pietermaritzburg. Kusche het die mansresies in 5:15:56 gewen en die vorige ‘Op’-rekord van 5:24:49 – wat in 2008 deur die Rus Leonid Shvetsov opgestel is en vir 18 jaar gestaan het – heeltemal verpletter. Kusche het ook ’n gemiddelde pas van 3:40,99/km gehandhaaf, wat beteken dat hy die ‘Beste Gemiddelde Tyd’ van 3:43,75/km wat in 2000 deur Vladimir Kotov opgestel is, verbeter het. Tweede oor die wenstreep was die Nederlander Piet Wiersma, die 2024-wenner en verdedigende kampioen van die ‘Op’-wedloop, wat in 5:19:36 klaargemaak het. In die vroueresies het Steyn na haar derde ‘Op’wedloop-oorwinning en vyfde Comradesmarathontitel algeheel aangestoom, met ’n indrukwekkende tyd van 5:44:53. Dit was binne haar eie rekordtyd vir die vroue se ‘Op’-wedloop van 5:49:46, wat sy in 2024 opgestel het. Die twee Oraniamanne is dit eens: “Ons sal volgende jaar terug wees!”

Comrades 99 in ‘n uitdagende sakkie – foto 2
Comrades 99 in ‘n uitdagende sakkie – foto 3
Voorblad van Koerania - Junie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2026, bladsy 11

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar