
Dié uithoumarathon is wêreldbekend en het vanjaar 20 974 atlete laat wegspring. Daar was 16 721 mans en 4 253 vroue wat by die beginpunt vergader het. Die eindstreep het 18 209 daaroor sien hardloop, strompel of kruip. Van dié totaal was dit 14 647 mans en 3 562 vroue wat die marathon voltooi het. Die resies het 'n merkwaardige hoogtepunt beleef toe Louis Massyn (74) die eerste atleet in die wêreld geword het om dieselfde ultramarathon vir die 50ste keer te voltooi. Hy het die eindstreep in 'n tyd van 11:53:14 oorgesteek.
Wayne McDermitt se nommer 5 en Christo
Müller se nommer 22 Comrades marathon het vir albei goed geeindig. Vanjaar se af-resies word deur hulle as die makliker, maar verder resies beskryf. Wayne skryf dit toe aan die feit dat hy meer kragoefening ingesit het vir vanjaar se m a r a t h o n .
Wayne sê: “Die kameraderie is sterk. Daar is groot respek vir mekaar omdat jy weet die atleet langs jou is nie daar van baie praat nie, maar eerder van baie doen.” Christo het lof vir die skare wat hom van ligdag tot die einde met 'n gejuig gedra het. “Dit was 'n byna onwerklike gevoel soos wat almal, sonder uitsondering, my ondersteun het en Orania uitgeskree het. Ek het soos 'n prins op sy perd gevoel wat deur die skare toegejuig word,” lag hy. Hy verduidelik dat daar plekke was waar soveel mense gestaan het om 'n tonnel te vorm, dat dit soos 'n brander van die een kant af begin het tot die einde waar Orania geskree word. Christo het met die Oraniavlag aan sy lyf gehardloop, wat dit onmoontlik gemaak het vir mense om hom mis te kyk.
Hoekom jouself deur die oefening en byna marteling sit? “Ek hou aan omdat mens soms moeilike dinge moet aanpak om sodoende sekere waardevolle eienskappe te versamel. My finale tyd was 10:04:52. Om gesond te leef en dankbaarheid te verstaan motiveer my nogal baie,” sê Wayne onomwonde. Christo verduidelik dit so: “Eerstens sal ek sê dis 'n prestasie om die wedloop te voltooi binne die toegelate 12ure. Ek het met 'n tyd van 10:42:03 gehardloop. As dit maklik was, sou daar baie meer atlete deelgeneem het. Ek sê altyd vir mense....want ek kan, maar ek weet baie atlete sê hulle is nou klaar of dat dit die laaste een was. Daardie gees is net so ongelooflik! As jy by die beginpunt staan en Chariots of fire speel, is dit hoendervleismooi. Dit is 'n onbeskryflike gevoel as die toeskouers jou deur die pyn dra, veral op pad eindstreep toe. Na 'n week vergeet jy alweer van die pyn,” noem hy opgewonde. Die vlag bo Christo se kop het daartoe gelei dat hy redelik wind moes afkeer. “Ek moes op twee stadiums die vlag afhaal vir ongeveer 3km's. Ek het daar gesukkel om vorentoe te beweeg.” Byna 'n week het verloop en Wayne se wyse herstelproses sluit in: “Ek slaap soveel as wat ek kan, eet soveel as wat ek kan en kyk soveel netflix as wat ek kan. Ek oefen eers weer na so 20 dae.” Christo rus ook vir 2 weke en begin dan weer liggies oefen tot die volgende wedloop, gewoonlik in September. Alhoewel hy na 'n week al goed voel is sy spiere nog lekker broos en daarvoor moet hy respekvol teenoor sy liggaam optree. Karin Müller het al 6 medaljes in haar versameling, maar na 'n 2022 ernstige voetbesering moes sy haar oefenpas stadig aanpak. Sy kon ongelukkig nie genoeg marathons inpas om te kwalifiseer nie. “Dit is maar nie lekker om net te ondersteun nie. As die skoot klap is die adrenalien so hoog, maar jy mag net kyk, en by die einde is dit moeilik om te kyk hoe almal klaarmaak, want dit kon jy wees,” vertel Karin. Opgee is egter nie vir haar 'n opsie nie en sy is opgewonde om die kilometers te begin aftel vir 2026, omdat sy haar groen nommer met haar sewende Comrades wil kry en 7de Twee Oseane wil hardloop.
Aan die ander kant wat dit darem so bietjie beter maak is dat ek die voorreg het om my man te ondersteun, maar glo my dit is senu tergend. Ek is baie trots op hom wat dit nou al vir 22 keer kon doen. Dink dit sal iets besonders wees as ek my permanente nommers in altwee in een jaar kan kry, maar dit bly in die Here se hande.
Joost Strydom se besige werksprogram en 'n ontydige besering het ongelukkig voorkom dat hy vanjaar die marathon kon aandurf. Hy noem wel dat hy hoop om in 2026 weer deel te neem. Koerania sien uit na Wayne se nommer 6, Christo se nommer 23, Karin se nommer 7 en Joost se nommer 3 in 2026! Oefen lekker en dra ons Orania se fiksheidsvlag hoog!





