← Gemeenskap

· Deur dr Wikus Buys

Christus is ons vaste hoop in Orania – April 2026

Die hoop van ons as Christene is vasgebind aan ‘n Persoon, aan ons Here Jesus Christus.

Christus is ons vaste hoop in Orania – foto 1

Die hoop van ons as Christene is vasgebind aan ‘n Persoon, aan ons Here Jesus Christus. Deur die doop met die Heilige Gees word die kinders van God vasgemaak het aan die lewe van Jesus Christus self. Daarom kan die apostel Paulus in 1 Tim. 1:1 verklaar dat die Here Jesus inderdaad ons Hoop is. Deur die doop met die Heilige Gees kry ons deel aan Jesus Christus se dood en opstanding. Wat met Hom gebeur het, word ook tot ons lewens gereken. Die Here Jesus se lewe wys duidelik ‘n patroon aan van swaarkry en verligting, van vernedering en verhoging. Deurdat die Heilige Gees vir die kinders van God geloof skenk, word hulle lewens vasgebind aan die Lewe self, Jesus Christus. Dit gee ons ontsaglik baie krag en hoop. Meer as ‘n wens ‘n Christen se hoop in sy lewe is baie meer as net ‘n blote wens dat omstandighede anders kan uitdraai. Die ongelowiges ken ook sulke wense, maar die wêreld wat los van God probeer leef, het eintlik geen ware hoop nie, al gebruik hulle soms die woordjie ‘hoop’. Wat is nou so uniek aan ‘n Christen se hoop? Wel, soos genoem, is die Christelike geloof persoonlik. Dit gaan om 'n intense meelewing met wat met Jesus Christus gebeur het. Borg Sy lewe staan vir ons tot borg. Sy dood aan die kruis tel in ons plek, sodat ons dood geen skuldbetaling meer is nie. Sy opstanding en Hemelvaart is ook vir ons ‘n wonderlike borgskap. Sy opstanding verbreek die grootste ketting wat ons lewens omknel, naamlik die vrees vir die dood. Christus se opstanding ontsluit vir ons ‘n toekoms.

‘n Toekoms van die moontlikheid van ‘n oop graf. Ons lewe eindig nie by die dood nie. Die graf is nie meer ons finale eindstreep nie. Christus se oorwinning oor die dood word ook vir ons as oorwinning geskenk. Hierdie hoop verander ons hele lewe en lewensuitkyk. Ons leef nie meer in vrees nie, maar in blymoedige afwagting oor wat God ons belowe. Christus se lewe is vervleg met ons lewe. Waar Hy is, sal ons ook wees. Die wonderlike wete dat sy Hemelvaart sy groot troonbestyging is, voed ons hoop. Christus regeer, oor alles en almal. Hy is die Hoof van alle dinge. As sodanig is Hy, as Hoof, ook aan die gemeente gegee, wat die liggaam van Christus is. Ons hoop is dus gesetel in wie Jesus Christus is en wat Hy doen. Beleef vaste hoop

Wat maak jou hoopvol, en wat veroorsaak wanhoop in jou lewe? Weet dat hoop nie ‘n blote wens is dat die aaklige werklikheid bietjie anders moet word nie. Leef daaruit dat hoop vas en seker is, aangesien dit verbind is aan Jesus Christus, sy lyding en sy verhoging. Geloof is die hoop op die dinge wat ons nie sien nie. So leer die Bybel ons in Heb. 11:1 : “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Geloof is dus om te lewe uit die beloftes en bevele van die Here soos wat dit deur die Woord en Gees aan ons vasgemaak is. Geloof is jou bewys dat jy sal sien waarop jy hoop. Laat Christus self altyd Orania se hoop wees - dan mag ons verseker wees van ‘n vaste toekoms uit God se hand, ook in tye van onsekerheid.

Voorblad van Koerania - April 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2026, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar