
“... en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” 2 Kronieke 7:14.
Die krisis van ons tyd
Oraniërs, ons volk bevind hom tans in 'n tyd van onsekerheid, onvryheid en verwarring. Baie vra: “Waarom gaan dit so swaar met ons?” Maar die Skrif wys dat 'n volk se uiterlike toestand bloot 'n weerspieëling van sy innerlike toestand voor God is. Ons het die seëninge van die Here geken, maar sy stem geïgnoreer. En daarom kom die Here vandag weer na ons met daardie eenvoudige maar dringende woorde: “As my volk…” Verootmoediging - die begin van genesing
Verootmoediging en genesing begin nie by ander nie, dit begin by my en jou. God sê nie: “As die regering…” of “as die wêreld…” of “as die VSA…” of “as Trump…” nie. Hy sê: “As my volk...” Verootmoediging beteken om te erken dat ons as Afrikaners, wat Hom eens openlik gedien het, verhard geraak het. Ons bely sy Naam, maar weerspieël nie sy hart nie. Ons het op onsself begin vertrou, op kultuur, op tradisie, eerder as op Christus. Jesaja 1:4 sê: “Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag...” En nou roep die Here ons weer terug - nie om te roem nie, maar om voor Hom te buig. Bid en soek My aangesig Om God se aangesig te soek, is meer as om sy hulp te vra. Dis om weer sy teenwoordigheid bo alles te begeer. In Hosea 10:12 lees ons: “..dit is tyd om die Here te soek totdat Hy kom en geregtigheid laat reën.” Ons soek baie dinge - veiligheid, vryheid, rykdom en erkenning maar soek ons nog God se aangesig? Ons volk het baie stemme, maar word ons nog stil voor God? Bekeer julle van julle verkeerde weë Bekering beteken 'n wegdraai van sonde persoonlik én kollektief. Maar hoe weet ons waarvan ons moet bekeer? Die apostel Paulus gee vir ons die maatstaf in Galasiërs 5:19–23 waar daar staan: “...die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge... Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Laat ons eerlik vra: Wanneer ander mense na ons volk en na ons dorp kyk, wat neem hulle waar - in ons gesinne, ons dorp en in ons politiek - watter lys pas beter by ons? Sien hulle: Twis eerder as vrede? Afguns eerder as blydskap oor ander se seëninge? Trots eerder as sagmoedigheid? Kritiek en oordeel eerder as liefde? As ons hierdie dinge in ons midde toelaat, lieg ons as ons sê ons het Christus lief. Want Jesus sê in Johannes 13:35: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
God se belofte van herstel
God se oordeel is altyd met die doel van herstel. Hy sê: “As julle julle verootmoedig… dan sal Ek hoor, vergewe en julle land genees.” Wanneer ons ons sonde erken en ons trotse harte buig voor Hom, dan doen God wat geen mens kan doen nie - Hy verander harte, gesinne, families, 'n dorp en uiteindelik ook 'n volk. Hy belowe om die vloek van ongehoorsaamheid te keer, en sy seën weer te laat rus op dié wat Hom eer. Deuteronomium 30:2 en 3 sê as ons terugkeer na die Here ons God… dan sal die Here ons lot verander en Hom weer oor ons ontferm.” Ons moet nou kies Oraniërs, die Here vra vandag: Sal ons as dorp en volk weer voor Hom buig? Sal ons ophou om ons onvryheid net in aardse terme te sien, en besef dat dit 'n gevolg is van ons eie trots en afvalligheid? As ons weer die pad van die Gees kies, sal die Here sy hand weer oor ons uitstrek. Maar as ons aanhou wandel volgens die werke van die vlees, sal ons bly ervaar dat Hy sy beskerming onttrek en gaan Orania minder as 'n voetnoot in die wêreldgeskiedenis wees. Daarom sê die Here in Joël 2:13 ... skeur julle harte, nie julle klere nie.
(Opening waargeneem deur Gawie Snyman, Uitvoerende Hoof van die Orania Dorpsraad, tydens die Witkruisdag herdenking op 11 November 2025).




