← Gemeenskap

· Deur dr Wikus Buys

Alles onder een Hoof – in Christus – Desember 2025

Met die volheid van die tyd het God sy Seun uitgestuur om as 'n mens gebore te word (Galasiërs 4:4).

Alles onder een Hoof – in Christus – foto 1

Met die volheid van die tyd het God sy Seun uitgestuur om as 'n mens gebore te word (Galasiërs 4:4). God het 'n spesifieke bedoeling daarmee, “sodat ons die aanneming tot kinders van God kan ontvang”. Die sin van die lewe hang ten nouste saam met die bedoeling van God. Soms is die raad van God vir ons een groot raaisel. Veral as rampe en beproewings ons troep aan troep tref. Dan wonder ons gou: wat is dan die sin van dit alles, waarmee is God met alles oppad? Wat wil God met ons? Die Bybel leer dat daar regtig dinge is wat net God weet. “Die verborge dinge is vir die Here onse God.” (Deut. 29:29). Daar staan egter ook in dieselfde vers: “maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid...” Met die geboorte van Jesus Christus maak God sy groot bedoeling met die mens, trouens met alle dinge, duidelik en sigbaar bekend. Dit gee vir ons rigting en troos in ontstuimige tye. Dit waarsku ons ook om nie ons eie bedoelings sommerso met God se ewige bedoeling te verwar nie. Wat is ons doel, waarmee is ons besig, wat is die uiteinde van dit alles – ook van ons groeiplanne met Orania? Bestek opname Dit is goed om aan die einde van 'n jaar bestek opname te maak. Vir elkeen persoonlik, vir Orania en vir die hele Afrikaner gemeenskap is hierdie 'n belangrike taak. Waarmee is ons regtig besig? Belangriker nog, pas dit wat ons doen in by die ewige bedoeling van God - wat Hy bekend gemaak het. Die Here het 'n duidelike en geopenbaarde bedoeling met ons. Dit kan ons alleen ken deur sy Woord, wat mens geword het in Jesus Christus en ook vir ons neergeskryf is as die Bybel en ook vir ons gepreek word. Deur die Heilige Gees, wat ons weergebore laat word en geloof skenk, kom ons agter wat God wil hê nie, maar leer ons ook elke dag verder hoe om ons hele lewe met God se bedoeling te vereenselwig. Verenig onder een hoof Dit is wat die apostel Paulus verkondig in Efesiërs 1:10 as hy die rede aanwys waarom God ons in Christus red: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade ... deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op aarde is, onder een hoof in Christus te verenig ...” (Efesiërs 1:7-10). God wil alle dinge onder een hoof in Christus verenig. Dit is sy ewige bedoeling. Om hierdie rede het hy in die begin die hemele en die aarde geskep. Om hierdie rede bewerk Hy ook verlossing van sonde. Jesus Christus het in die volheid van die tyd as mens gekom. Hy betaal met Sy kruis die skuld van misdade teen God en medemens. Met sy opstanding word Hy openlik verklasr as die Seun van God wat Hoof is van alle dinge. Implikasies Die hoofskap van Jesus Christus het omvangryke implikasies. Deur die Heilige Gees verenig ons in geloof met Jesus Christus en word ons deur God gereken as die eie liggaam van Jesus Christus. Christus is die Hoof van sy liggaam, die gemeente (Kolosense 1:18). Dit is troosryk en waarskuwend. In Jesus Christus kry ons deel aan wie Hy is en wat Hy gedoen het. Hy het nie net betaal vir ons sondes nie, maar Hy voer God se heilige bedoeling met alles uit – alles word onder een hoof in Hom vergader. Wie buite Christus is, is buite die genade van

God. Wie los van Christus lewe weerstaan die bedoeling van God met alle dinge. Vir ons persoonlik, maar ook vir Orania as geheel het dit baie groot gevolge. Ons erken amptelik Jesus Christus se koningskap oor alle dinge, maar juis daarom moet dit ook blyk uit al die detail van ons lewe en lewensplanne. Mens kan nie beweer dat jy Jesus Christus as hoof erken, sonder om deel te wees van sy liggaam, die gemeente nie. Dit sluit baie dinge in, ook fisiese deelname in die erediens. So lui die wonderlike evangelie: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Efesiërs 1:22-23). Slegs Jesus Christus, die Hoof van alle dinge, red mense. Daarom skakel Hy jou in by sy gemeente, sy liggaam. Die kerk red jou nie, maar sonder die kerk word jy ook nie gered nie, want Jesus die Hoof, is verenig met sy liggaam. Wat het die jaar 2025 nie alles vir ons opgelewer nie? In vele opsigte was dit 'n waterskeidingsjaar. 'n Jaar waarin God weereens getoon het dat Hy almagtig sy bedoeling handhaaf, met jou en my lewe, met alles en almal, ook van volke. Laat ons gewillig en met gehoorsaamheid onder die hoofskap van Jesus Christus lewe - voluit en volledig. Dan sal 2026 vir ons geen verskrikking wees nie, maar 'n kragtige getuienis van God se ewige bedoeling met sy kinders.

Voorblad van Koerania - Desember 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Desember 2025, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar