
Abigail Ackermann is ‘n Oraniër en weduwee wat haar nie van stryk laat bring nie. Met een geamputeerde been, haar rolstoele, krukke en Toffie gaan sy net waar sy wil. Abi vertel vir Koerania dat sy by elke kampplek nuwe vriende maak en dat mense oor die algemeen baie behulpsaam is as sy nou vrou-alleen moontlike hulp sou benodig. “Ek hou nie daarvan om vir hulp te vra nie en sukkel meestal maar op my eie, maar die wonderlike mense, unieke ervarings en pragtige natuurskoon wat ek op my reise geniet vul my lewensemmer tot hy oorloop,” vertel sy. As jy vir Abi en Toffie by ‘n kampterrein sien, staan gerus nader en maak kennis. Sy is ‘n vrolike vrou wat haar “man” staan en met elke talent woeker.




