
61 jaar is baie tyd om goed bymekaar te maak, te versamel, as geskenke te kry, lief te hê, te koester. Ons stal dit uit, pak dit in ‘n rak, gebbruik dit, oorlaai ‘n laai of hang gunstelinge bo-oor mekaar. Elke liewe item het sy eie storie. Ek onthou toe my ma vir my dié gegee het… Dié was my ouma s’n… Hierdie was my pa se laaste trui wat my ma gebrei het... My boetie het hierdie met sy eie hande gemaak… My vermoorde vriendin en ek het hierdie kassie… ‘n Liefste vriendin het haar oorlede dogter se koei vir my gestuur… Om dit te laat gaan, te verkoop, weg te gee, te verpak, uit te stal en te sien wegry is ‘n byna vreesaanjaende ervaring. Die herinneringe oorweldig jou soms tot ‘n tranedal omdat jy nie in daardie oomblik perfekte woorde kan kry om jou gevoelens te beskryf nie. Ooremosioneel? Ek gee werklik nie om wat jou mening daarvan is nie. Hierdie was my goed en daar is stories en mense wat daardie goed aan my hart gebind het. Wanneer jy nog min tyd ook het om van BAIE jare se goed ontslae te raak, laat dit jou menigmaal angstig voel, selfs hiperventileer. Die uitstel van dié aksies laat jou soms vries, want vlug kan jy nie. Om daarteen te veg laat jou magteloos voel. Die rasionaal wat ek myself telkemale mee moes aanpor was: “Nou hoef ek nie iemand anders daarmee op te saal om my goed te kom uitsorteer as ek tot sterwe kom nie.”
Dit is vir my swaar om my hoop woordeboeke te los. ‘n Woordeboek is soos ‘n museum vol geskiedenis en nuwe ontdekkings. Jy kan blaai en blaai en nooit verveeld raak met die prag van woorde nie. Ons taal is 101 jaar oud vanjaar, maar tog so jonk. Dit hang van ons af om dit aan die brand te hou. Weet jy hoeveel weeg ‘n Bybel? En ek het eintlik 4 wat ek wil saamneem. Meer as 3kg per Bybel! Ek wil nie elektronies lees nie. Ek wil strepe en kringe trek en kernwoorde neerskryf om die Vader se wysheid, of sy teregwysing, of sy liefde en genade uit te lig. Nou het ek 3 x 23kg se Bybels, klere, foto’s, dokumentasie, memorabilia en koestergoed oor. Drie tasse vol daarvan. Is dit genoeg om ‘n nuwe lewe mee te begin bou? Ek weet nie. Ek sal julle laat weet as ek uitgevind het. Dit is winter. Skink solank ‘n warm beker koffie en vou jou hande saggies om sodat jy daardie koppie se hitte kan absorbeer. Laat so tikkie van daardie hitte in jou hart gaan lê. Gee vandag vir iemand om wat mense of iets moet agterlaat! Maklik of eenvoudig is dit nie! Oor die mense wat jy agterlaat skryf ek later... Hebreërs 6:19 -en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel 20 – waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het…




