← Sake

· Deur Dia van Staden

A-Z Pekanneutkonferensie suksesvol

Die tweede A-Z Pekanneutkonferensie is suksesvol afgehandel.

’n Gepakte konferensie
’n Gepakte konferensie

Die tweede A-Z Pekanneutkonferensie is suksesvol afgehandel. Die Dendron plaas was op 8 en 9 April 'n miernes van bedrywigheid. Uitstallers, besoekers, borge en kosstalletjiehouers is met 'n nat terrein en groen pekanboorde verwelkom. Die direksie van die A-Z Pekanneutkonferensie, dr Ben de Klerk, Francois Slabber en Johan Coetzee is beindruk met die hoë kwaliteit van sprekers, praktiese demonstrasies in die boorde en meelewing van uitstallers en borge. Francois sê: “Die grootste verskil is teweeg gebring deur die stasies wat in die boord opgestel was. Die boordstasies is as opsies oorweeg om uitstallers meer kontaktyd met konferensiegangers te gun, om meer praktiese gesprekke en demonstrasies in te sluit en om die sit en luistertyd te verminder.” Johan en Ben is optimisties daaroor dat teorie en praktyk mekaar tydens die A-

Z Pekankonferensie ontmoet. Wonderlike uitstallers en borge het die geleentheid geneem om hulle produkte en implemente ten toon te stel. Johan en Francois is dit eens dat uitstallers spesifiek bemark aan die pekangedeelte van hul mark en die geleentheid aanwend om oor hul suksesse in die mark te pronk, om hul produkte te demonstreer en vir bestuur om op grondvlak kontak met die verbruiker te maak. Borge is, vertel hulle, uiters noodsaaklik om kostes vir so 'n konferensie te dra. Die direksie spreek hulle waardering uit vir die sprekers wat met kundigheid seker gemaak het dat hulle inhoud relevant is en dat die gehoor daarby baat kon vind. Jan de Klerk, bewoner van die Dendron plaas, waar die konferensie vir die tweede jaar aangebied is, vertel: “Orania is sentraal geleë vir Kaapse boere en hulle wat van die noorde kom. Orania bied opregte gasvryheid en hier is genoeg akkommodasie beskikbaar. Ons toerisme baat daarby en boonop geniet elke besoeker ons veilige omgewing.” Renier Botha, bestuurder van die plaas, het elke belangstellende persoon in sy boorde verwelkom. Kallie Schoeman, bekende boer van die Groblersdal omgewing en uitvoerende direkteur van die Schoeman-groep, het 'n boodskap na afloop van die konferensie aan die projekkoördineerder, Dia van Staden, gestuur om die span geluk te wens met 'n puik aanbieding. Schoeman is nou die voorsitter van Schoeman Group Holdings en is steeds die hoofbestuurder van Zoetwater, die groep se plaas in die Noord-Kaap. Konferensiegangers se kommentaar was oorweldigend positief en daar word gegons oor die feit dat dit moeilik sal wees om die kwaliteit van die konferensie volgende jaar te oortref. Die Orania kosstalletjies het hard gewerk om almal se magies vol te hou, maar hulle lof word ook besing. Tina se pap en kaiings en skyfies, Lourence se burgers en worsrolle en die Kantien se kerrie en rys was van die smulgeregte.

Jan Snyder se toffies, biltong en droë wors het almal deurentyd laat kou. Die tweedejaar landboustudente van die Bo-Karoo Opleidingsentrum het oral 'n hand bygesit met dra, optel, verwyder en skuif, en 'n paar van hulle het vir sappige braaivleis gesorg tydens die gesamentlike kuier die Dinsdagaand. Hester Botha en haar moeder, Anette, het vir 'n smullekker braaivleis-aandete gesorg. Die harde bui reën het bygedra tot 'n unieke atmosfeer en daar is in die nattigheid van die Karoo geëet en gedrink en kennis uitgeruil terwyl daar gesosialiseer word. Besoek die webwerf by https://azpekan.co.za waar die aanbiedings van 2024 gelaai is en foto's en aanbiedings van 2025 binnekort beskikbaar sal wees. Tot volgende jaar!

Kallie Schoeman en Johan Coetzee
Kallie Schoeman en Johan Coetzee
Dr Ben de Klerk en dr Fanie Durrheim
Dr Ben de Klerk en dr Fanie Durrheim
Ivan Otto – SAPPA
Ivan Otto – SAPPA
Dr Elmi Lötze
Dr Elmi Lötze
Braaiers van BKO
Braaiers van BKO
Charus du Plessis
Charus du Plessis
Chris Barnard
Chris Barnard
Dr Ronel Hendriks
Dr Ronel Hendriks
Prof Leon van Rensburg
Prof Leon van Rensburg
Francois Slabber
Francois Slabber
Voorblad van Koerania - April 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2025, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar