
Vrouedag het op Saterdag 9 Augustus kunstige kleur én geur aan die Voortrekkermonument verleen danksy 'n unieke kwilt-enwynpassingsgeleentheid wat in die Senotaafsaal aangebied is. Hierdie uitsonderlike geleentheid is deur die Montpellier de Tulbagh-wynlandgoed en Creative Journeys in samewerking met die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangebied. Gaste kon bekroonde smake én bekoorlike kwiltkuns ervaar deur ses kwilte by ses van Montpellier de Tulbagh se produkte uit sy kelders te pas – een witwyn, twee rooiwyne en drie Méthode Cap Classique's (MCC's). Antoinette Kriel, eienaar van Creative Journeys, het Montpellier de Tulbagh 'n paar jaar gelede met dié unieke idee genader en vir die afgelope drie jaar reeds drie uiters suksesvolle geleenthede aangebied. Saterdag was dit die noorde van die land se beurt om te ervaar hoe twee uiteenlopende kunsvorms soos klip in kettie pas. Volgens Kriel lê die kern van die kwilt-enwynpassing in die ontmoeting tussen die kuns van wynmaak en die skeppende proses van kunskwilte. “Die passingsgeleentheid vir genooide gaste is 'n interaktiewe spel van sintuie, herinneringe en estetiese smaak,” sê sy. In die gees van ons ryk erfenisnalatenskap, die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) 150 jaar gelede en hul bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur, was dit vir die FAK gepas om 'n kwilt-en-wynpassing aan te bied.




