← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Wolhartprojek brei en hekel klein lyfies warm

Janene Kotzé het jare gelede al met die Wolhartprojek begin deur vir haar voormalige gemeente in Mpumalanga wolmussies vir die handwerktafel te brei.

Wolhartprojek brei en hekel klein lyfies warm – foto 1

Janene Kotzé het jare gelede al met die Wolhartprojek begin deur vir haar voormalige gemeente in Mpumalanga wolmussies vir die handwerktafel te brei. Die hoofdoel met die projek is om behoeftige kindertjies ‘n bietjie warmer te maak gedurende die winter. Die wolhartjie op elke mussie, moet elkeen herinner dat onse hemelse Vader hulle raaksien en voorsien, en dat daar steeds mense is wat omgee, ten spyte van hoe moeilik hulle lewens dalk nou is. Vanjaar is 1 261 verskillende wolitems gebrei en gehekel. Die mussies, handskoene, serpe, sokkies, truie en komberse deur 22 vrywillige en handige vroue geskenk. Lees die volledige storie op bladsy 2. Foto: Leonie Deysel

Toe Janene Kotzé en haar man in November 2024 vanaf Mpumalanga na die Noord-Kaap verhuis het, het sy 'n jarelange tradisie saamgebring. Sy het voorheen elke jaar getrou mussies gehekel vir haar vorige gemeente se Junie-kerkbasaar, en selfs ná hul verhuising het sy eers voortgegaan om haar handewerk daarheen te stuur. Vroeg in 2026 het die begeerte egter by haar ontstaan om eerder 'n impak in haar nuwe omgewing te maak. Na 'n navraag op die plaaslike hekelen breigroep het dit duidelik geword dat daar nie tans 'n soortgelyke projek bestaan nie. Dit het haar laat wonder of sy self 'n paar mense kon aanspoor om saam met haar mussies vir behoeftige kinders te maak. Na verskeie oproepe en e-posse het sy die nodige toestemming van plaaslike skoolhoofde verkry om hierdie droom te bewaarheid. Dit was die amptelike geboorte van die Wolhart-projek—'n gepaste woordspeling op "volhard", want met wol sou daar deurlopend volhard word om 'n daadwerklike verskil te maak. Die projek het op 20 Februarie 2026 afgeskop met 'n amptelike einddatum van 26 Mei. Om die deelnemers te bedank vir hul kosbare tyd en die onkoste van wol, het Janene en haar man self geskenke en pryse beskikbaar gestel. Hoewel Janene in haar hart stilletjies gedroom het om sowat 250 wolitems in te samel, het sy nooit 'n spesifieke syfer as mikpunt gedeel nie. Die aanvanklike reaksie was stadig en sy het self vinnig begin hekel om te verseker daar is iets om te skenk. Maar soos 'n damwal wat kraak, het die skenkings skielik begin instroom—eers 'n druppel van twee items, toe sakke vol, en uiteindelik 'n stortvloed van 698 items in die laaste twee dae alleen. Teen die sluitingsdatum het die projek die verstommende totaal van 1 261 handgemaakte items bereik, waaronder 653 mussies, 353 serpe, 229 pare handskoene, 20 komberse, drie truitjies en drie paar sokkies. Hierdie wonderwerk is vermag deur die onbaatsugtige toewyding van 22 deelnemers, vyf anonieme bydraers en een skenking van buite die gemeenskap. Spesiale erkenning kom die top-deelnemers toe: Aliva Botha het die eerste prys, ‘n vakansie, losgeslaan met 'n ongelooflike 250 items, terwyl An-Nelia Meyer 'n welverdiende tweede plek behaal het met 174 items, insluitend al 20 komberse. Die ander uitsonderlike bydraers in die topvyf was Louise Botes, Yvette Boshoff en Madelein de Beer. Die kosbare items is op Saterdag 6 Junie amptelik oorhandig aan verteenwoordigers van plaaslike instansies, insluitend Heidi Smit (Materiële Bystand), Jessica Eloff (Kieliepensie), Esna de Beer (Huppelkind), asook verteenwoordigers van die CVO-skool en Volkskool, met die versoek om dit dadelik en rojaal uit te deel sodat elke voorskoolsekind die koue winter met warmte en die wete van die Vader se liefde kan aandurf. Elkeen van die unieke items is afgerond met 'n spesiale gehekelde wolhartjie waaraan Janene en Alta Gayba tot laat in die nag gewerk het. Die projek herinner ons daaraan dat 'n klein gedagte tot groot omkeer kan lei, en 'n groot dankie gaan aan al die vroue wat hierdie sukses moontlik gemaak het: Anna-Marie Daubney, An-Nelia Meyer, Anike Kirsten, Lourika Young, Madelein de Beer, Zelda Glanz, Yvette Boshoff, Ellen Holtzhausen, Minnie Strydom, Rina van Dyk, Aliva Botha, Karin Booysen, Marlene Esterhuizen, Hettie Glen, Dou de Beer, André Handford, Lené van der Walt, Annalize Goosen, Grietjie van Schalkwyk, Wietzke Potgieter en Louise Botes. Belangstellendes kan Janene reeds kontak by 082 619 7879 om deel te word van die opvolgprojek vir 2027.

Wolhartprojek brei en hekel klein lyfies warm – foto 3
Wolhartprojek brei en hekel klein lyfies warm – foto 2
Voorblad van Koerania - Junie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2026, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar