← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Witkruisdag in Orania op 11 November

Die einde van die Eerste Wêreldoorlog het op 11 November 1918 aangebreek.

Frans de Klerk aan die woord
Frans de Klerk aan die woord

Die einde van die Eerste Wêreldoorlog het op 11 November 1918 aangebreek. Sedertdien word 11 November wêreldwyd as Rooi Papawerdag herdenk. Die Orania-gemeenskap herdenk op dié dag die duisende plaasmoordslagoffers en soldate wat op die grens gesterf het. Verskeie instellings en individue het deel van die kranslegging gevorm. Frans de Klerk (jnr) het die gehoor daaraan herinner dat daar 'n tyd is om te treur, maar ook 'n tyd om vorentoe te kyk en weer te bou. “Die brutaliteit van 'n plaasmoord kan ek nie verstaan nie. As 'n volk moet ons tyd maak om te huil. Ons moet eerlik met mekaar wees. Dit gaan regtig nie goed nie. Ons beleef gereeld trauma wanneer ons iewers 'n volksgenoot aan moord afstaan.” Hy het uit Prediker 3:1 gelees. Elke ding het sy vaste tyd 1 Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: 2 daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek, 3 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou, 4 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans, 5 'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af, 6 'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak, 'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi, 7 'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk, 'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat, 8 'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede. “Lê jou krans vandag en as jy opkyk na die kruis besef dat daar 'n verantwoordelikheid is om na te kom namens dié wat ons verlaat het en teenoor God. Daar is 'n tyd om hartseer te wees, maar daar is 'n tyd om op te staan,” het Frans met eerbied gesê.

Joost Strydom gaan lê 'n krans by die Wit Kruis
Joost Strydom gaan lê 'n krans by die Wit Kruis
Voorblad van Koerania - November 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – November 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar