Die jaarlikse Winterspele van CVOskole regoor Suid-Afrika sal vanaf 25 tot 27 Junie vir die eerste keer ooit in Orania plaasvind. Jaarliks neem sowat 1000 rugbyen netbalspelers aan hierdie skolesportbyeenkoms deel, terwyl dit deur minstens 3000 toeskouers bygewoon word. Orania CVO-skool, ’n lid van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), het die afgelope vyf jaar teen ’n koste van R8 miljoen vier rugbyvelde en sewe netbalbane op die skool se terrein ontwikkel met die oog daarop om juis groot byeenkomste soos die Winterspele te kan aanbied. Deur die skool se Mielieprojek het boere die afgelope dekade grootliks die finansiering van hierdie sportfasiliteite gefinansier. Die Winterspele het die afgelope paar jaar meestal in Lichtenburg en Groblersdal plaasgevind, omdat daar in beide dorpe CVO-skole is met sportfasiliteite wat aan die minimumvereistes van drie rugbyvelde en ses netbalbane op een terrein, voldoen. Vanjaar se Winterspele in Orania is dus in baie opsigte ’n eerste. Terwyl dit die eerste Winterspele is wat die BCVO se Noord-Kaapstreek in die Noord-Kaap self aanbied, is dit ook die grootste sportbyeenkoms wat nog ooit in
Orania aangebied sal word. Die Winterspele beloof om uitstekende skolesport na Orania te bring met leerlinge van die 30 CVOskole wat in vier streke opgedeel is en wat vanaf voorskoolse ouderdom tot o/19 aan rugby en netbal sal deelneem. Orania CVO-skool, saam met die ses ander Noord-Kaapse CVO-skole beplan reeds vir maande aan die byeenkoms en daar word ’n reuse toestroming van besoekers na Orania verwag. Alle verblyf in Orania en vyf omliggende dorpe is reeds maande gelede vol bespreek en Orania se restaurante, winkels en dienstesektore maak ook lankal gereed om al die gaste te verwelkom. Die Winterspele sal ’n reuse ekonomiese inspuiting vir Orania beteken. Dit bring egter ook minstens 1000 ekstra voertuie per dag na die dorp en daarom sal Orania Veiligheidsdienste help om die verkeer te reguleer. Daar is vier parkeerareas wat goed aangedui sal wees. Toegang tot die Winterspele-terrein sal slegs R35 per persoon per dag wees. Heerlike kos en verversings sal op die skoolterrein te koop aangebied word. Inwoners van Orania en die omliggende omgewing word aangemoedig om die feestelike sportbyeenkoms te kom bywoon. Bring gerus kampstoele saam en kom deel in hierdie reuse Afrikaner sportbyeenkoms – naas die Bokkieweek wat jaarliks in Kroonstad of Potgietersrus plaasvind – die grootste in die land! Wedstryde sal ook op YouTube uitgesaai word en die uitslae sal op die skool se webblad by www.bcvowinterspele.co.za gepubliseer word. PretoriaFM sal Saterdag, 27 Junie regstreeks vanaf die Winterspele uitsaai. Orania CVO-skool is een van Orania se trotse instellings. Die skool se personeel, ouers, leerlinge en ondersteuners het oor die afgelope paar jaar hard gewerk om die skool se fasiliteite uit te brei en die skool het tans meer as 500 leerlinge vanaf babas tot Graad 12. Om hierdie nuwe groot mylpaal te vier wil die skool dus die hele Orania-gemeenskap nooi om in die vreugde, maar ook die samesyn en heerlike sportmanskap te kom deel.




