
Wat sê Kleinsake van toekomstige besigheidsgeleenthede in Orania? ·Watter industrie kan werk skep? ·Watter industrie of tipe besigheid kan ekonomiese groei bewerkstellig? ·Wie se verantwoordelikheid is werkskepping en ekonomiese groei, volgens jou?
Die skepping van werk en ekonomiese groei is primêr die rol van die entrepreneur. Maar, die entrepreneur funksioneer nie in ‘n silo nie en het owerheid- en gemeenskapsinstellings nodig om sekere voorwaardes vir ekonomies groei te stel. Sonder 'vrugbare grond', wat deur hierdie instellings verskaf word, kan die idees van entrepreneurs, wat lei tot werkskepping en ekonomiese groei, nie 'wortel skiet' nie. Daar is verskeie tipe industrieë wat vir Orania groeipotensiaal inhou. Wanneer daar net gekyk word na die tipe natuurlike bates wat Orania het, naamlik 'n betroubare bron van water, goeie sonlig en bewerkbare grond, is landbou en die verwerking van landbouprodukte van die eerste goed waaraan een kan dink. Vervaardiging van lae-volume, hoë-waarde produkte kan ook werk, maar op hierdie stadium, weens ons klein skaal en afstand na markte, sal dit slegs vir besighede kan wees wat alle prosessering binne-huis kan doen en slegs 'n finale produk na buite versend. 'n Ander industrie wat reuse potensiaal toon is naskoolse opleiding en aanlyndienste. Die rede hiervoor is dat opleiding mense se kennis verbreed en verdiep, wat hulle in staat stel om meer innoverend op te tree en dat dit koopkrag na die dorp toe bring; studente lewe in die dorp. Verder skep dit ook poste vir lektore en stimuleer dit ander ondernemings op verskeie ander vlakke. Aanlyndienste oorkom weer afstand na markte en maak dit maklik om sekere werke te verrig sonder om fisies daar te wees. 'n Ander industrie, wat onderbennut word en seker een van die maklikste is om te stimuleer, is toerisme. Orania is wêreldwyd bekend en dit laat mense jeuk, maar niemand bied werklik iets aan om dit behoorlik te krap nie.




