
Dit was nie Werner van der Hoven se eerste besoek aan Orania toe hy vir die BKO-afskopkonsert by Stokkiesdraai Avontuurpark opgetree het nie. Hy vertel dat hy rondom 2016/17 as deel van Ses Snare met ‘n vertoning in die gemeenskapssaal hier was. “Ek ervaar die dorp en die studente as vreeslik gasvry, trots op hulle dorp en prestasies, vriendelik, opgewonde en entoesiasties.” Sy tweede besoek was weer ‘n hoogtepunt. Werner geniet ‘n stukkie country en bluesmusiek wanneer hy self die geleentheid kry om te kies waarna hy wil luister. “Dit is eerlike en opregte musiek wat jy kan hoor,” deel hy. Hy beaam dat die publiek nie geflous kan word met “bubblegum” musiek nie. Hy gooi so stukkie humor in op die vraag of daar ‘n genre is wat hy glad nie sing nie. “Kubaanse musiek, want ek praat nie Spaans nie,” lag hy saam. As Werner tuis is is hy stil, rustig, sny gras, kla oor die hitte in die somer en kla oor die reën en koue in die winter. Hy haat egter ‘n vlieg en ‘n muskiet, en kla dus beslis die heel meeste daaroor! Daar is nie net een kunstenaar wat hy kan uitlig as ‘n gunsteling nie. “Enige iemand wat opregte en eerlike musiek maak, skat ek, en wat hard werk en dalk nie al die talent het nie, maar wat 120% effort insit.” Die sosiale media aspek van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is vir hom die mees uitdagende. “Ek sukkel maar nog om op daai wa te klim en gemaklik te sit. Dit verg rêrig baie aandag en tyd asook vernuf om relevant en aangrypend te bly.
Vir my in elk geval!” Sy gunsteling optrede is daai een wanneer dit voel of die gehoor deel is van die lied, nie noodwendig saamsing nie, maar meer ‘n absolute inkoop met waarmee jy besig is as ‘n geheel. Verskeie van die BKO-studente het hulle waardering vir sy talent en die lekkerte van sy musiek wat hulle al dansende geniet het, uitgespreek.





