
Die Orania Watervleuel het ontstaan na die tragiese verdrinking van Klarissa Joubert gedurende 2021. Die Watervleuel bestaan uit agt tot tien toegewyde vrywilligers wat passievol is om waterveiligheid in en om Orania te bevorder en tot die gemeenskap se diens op te tree. Sekere skenkings en donasies en ʼn beperkte begroting wat deur die Weerbaarheidsvereniging daargestel word, het die Watervleuel in staat gestel om basiese opleiding te ondergaan en basiese toerusting aan te koop. Aangesien die span altyd poog om na die beste van hul vermoë met die toerusting tot hul beskikking te funksioneer, word die behoefte vir meer gevorderde toerusting noodsaaklik. Beter toerusting lewer geleenthede vir lede om beter opleiding te ondergaan. Geen stap in die volgende rigting kom egter gratis nie en verskeie reddingscenarios benodig meer gevorderde toerusting en die vernuf om daardie toerusting optimaal te benut. Sommige van die spanlede wat reeds 'n geruimte tyd van die Watervleuel deel uitmaak, gebruik hul persoonlike toerusting om belangrike take te verrig. Die opleiding wat die span wil onderneem dwing hulle om inisiatiewe aan te pak wat vir hulle fondse kan genereer. Die dans vir die gemeenskap was een van daardie inisiatiewe. Dié span is toegewyd en is gereed om die gemeenskap te dien waar nodig. Hulle kan elke skenking of donasie doelgerig aanwend vir dié taak. Kontak Cobus Maree by 082 851 3795 om jou hulp, bydrae of fondsinsamelingsidee aan te bied.



