← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Wanneer ’n kampus ’n tuiste word

Daar is ’n spesifieke soort energie wat losbreek wanneer mense met dieselfde waardes en drome op een plek saamkom.

Wanneer ’n kampus ’n tuiste word – foto 1

Daar is ’n spesifieke soort energie wat losbreek wanneer mense met dieselfde waardes en drome op een plek saamkom. Dit is presies wat die afgelope naweek tydens BKO se Opedae op 12 en 13 Junie gebeur het. Dit het Vrydagaand begin met die samesyn van ’n cantus – ’n herinnering dat harde werk en ’n vlytige studentelewe hand aan hand gaan met die bou van lewenslange vriendskappe. Saterdag het die fokus verskuif na die toekoms. Ouers en voornemende studente het deur die klaskamers, koshuise, werkswinkels en die Leer-My-Hoe Proefplaas gestap, op soek na antwoorde vir môre. Hier kon besoekers eerstehands sien hoe die onderskeie voorliefdes omskep word in tasbare vaardighede wat lewens verander. In die werkswinkels en opleidingslokale is die fondamente van ware selfstandigheid sigbaar – of dit nou gaan oor Elektriese en Loodgieterstudielyne, of die hande-uit-die-mou krag van Bou- en Siviele Konstruksie. Daar is saam gekyk na die volhoubare toekoms wat op die proefplaas met Landbou gevorm word, maar ook diep onder die indruk gekom van die deernis en roeping agter Tuisversorging en Vroeë Kinderontwikkeling. Dit is rigtings wat nie net die land prakties opbou nie, maar ook die mense daarin koester en versorg. Wat die rolspelers by BKO die meeste geraak het, is die afstande wat besoekers afgelê het. Om te weet dat gesinne van elke provinsie – en selfs buurlande soos Botswana – brandstofpryse en lang paaie getrotseer het om BKO te kom beleef, herinner aan die groot verantwoordelikheid wat BKO dra.

Hulle soek nie net ’n rigting nie; maar ’n plek waar daar gegroei kan word tot volwaardige, selfstandige individue en dit alles op ’n kampus sonder mure en in ’n vry en veilige omgewing hier in die Bo-Karoo. ’n Omgewing waar Afrikaners met selfvertroue hul drome kan najaag en die toekoms met albei hande kan aangryp. “Vir diegene wat nie die naweek by ons kon wees nie: onthou dat ons deure altyd oopstaan vir ’n persoonlike kampusbesoek. Kom loop gerus self die pad saam met ons,”vertel Hanlie Pieters,

Bemarkingshoof van BKO. Belangrike kennisgewing: Inskrywings vir 2027 is nou amptelik oop vir alle studielyne! Vir die vinnige besluitnemers: daar is nog net ’n enkele plekke beskikbaar vir die komende Julieinname vir Elektries. Die toekoms is blink. En ons bou saam. Dankie. n Woord van opregte dank aan die uitstallers wat dienste of produkte bemark, uitgestal of verkoop het: Orania Ontwikkelings Maatskappy (OOM), Orania Beweging, Solidariteit, Excellencia Haarkappery, Byekorf Eiendomme, CVO -Skool Orania, Orania Dorpsraad, Snippie Snappie, OppiDorp, Afriforum Jeug, Orania Gesondheidsorg, Helpende Hand Studiefonds en die koshuise: Duiker Dameskoshuis, Heldehuis Daghuis, Steenbok en Vaalbos.

Wanneer ’n kampus ’n tuiste word – foto 4
Wanneer ’n kampus ’n tuiste word – foto 2
Wanneer ’n kampus ’n tuiste word – foto 3
Voorblad van Koerania - Junie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2026, bladsy 6

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar