← Nuus

· Deur Dia van Staden

Vrywillige diens is ‘n bousteen

Oraniërs het onlangs weer gesien hoe ware karakter onder druk gesmee word tydens die amptelike uitklaring van die Jeugkorps 2026 wat op 22 Junie geskied het.

Vrywillige diens is ‘n bousteen – foto 1

Oraniërs het onlangs weer gesien hoe ware karakter onder druk gesmee word tydens die amptelike uitklaring van die Jeugkorps 2026 wat op 22 Junie geskied het. Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, het die rekrute toegespreek en die kollig geplaas op ’n eeue-oue konsep wat diep in die Afrikaner se psige ingebed lê: diensplig. Hy het egter ’n vars en historiesgefundeerde perspektief op dié tema gelewer. Hoewel baie Afrikaners steeds dink aan nasionale diensplig as die "regte ding" om te doen, het hy aangevoer dat ware plig nie afgedwing kan word nie. Volgens hom is verpligte diens nie die natuurlike wyse waarop Afrikaners die afgelope vier eeue hul oorlewing in Afrika verseker het nie. “Daar het mooi verhale en transformasies uit die Grensoorlog-tyd gekom, maar dit is nie ’n volhoubare manier om ’n volk te bou nie,” het hy verduidelik. Joost het daarop gewys dat Afrikaners histories vir 90% van die tyd afhanklik was van persone wat hul plig vrywillig opneem. “Om iemand te verplig om iets te doen is eenvoudig nie volhoubaar nie. Die jongmense wat besluit het om by die Jeugkorps aan te sluit, het self daardie keuse gemaak.” Hierdie toegewyde lede moes behoorlik vasbyt. Hul deursettingsvermoë is met die boere op die Oosgrens voor die Groot Trek vergelyk wat sonder ’n polisiemag moes klaarkom, asook die vrywillige deelname tydens die Anglo-Boereoorlog waar daar geen staande weermag was nie. Dié tradisie van vrywillige diens leef vandag voort in moderne kommando’s en buurtwagte wat uit nood en vrywillige deelname gebore is.

“Omdat daar in Suid-Afrika of Orania nie noodwendig die fondse is om ’n groot, permanente veiligheidsmag te finansier nie, is ons veiligheid byna uitsluitlik in die hande van hierdie vrywilligers,” het hy genoem. Hy het benadruk dat sukses nie bloot afhang van wie die sterkste of fiksste is nie, maar van karakter. “Dit gaan nie oor hoe vinnig jy kan hardloop of hoe sterk jy is nie, maar oor die deursettingsvermoë wanneer rugsakke breek en omstandighede onvoorspelbaar word. Dit is hulle wat besluit om nie op te gee nie wat anderkant sterker uitstap.” Theuns Wessels, hoof van Weerbaarheid, het die praktiese verloop van die program geskets. Vanjaar het 23 jong manne tussen die ouderdomme van 17 en 23 ingeskryf. Hulle het vier intensiewe kampe bygewoon en opleiding in skietkuns, veldkuns, noodhulp en Orania-kultuur ontvang, insluitend ’n kursus oor die veldslae van die Eerste Vryheidsoorlog deur advokaat Jan van Zyl. Uiteindelik het 8 dapper rekrute die strawwe opleiding suksesvol voltooi. Die amptelike borg, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, het gesorg vir die nodige ondersteuning. Die top-rekruut, Gian Saaiman, het sy gesogte hoed as wenrekruut ontvang—pette wat groot simboliese waarde dra aangesien dit eers ná suksesvolle uitklaring oorhandig word. Volgens Theuns was Gian pligsgetrou en het hy altyd die ander lede aangemoedig om beter te vaar. Hierdie 8 manne sal nou onder leiding van Cobus Kirsten in die Jeugkorps dien om noodsaaklike ondersteuning aan plaaslike weerbaarheidsgroepe te bied.

Vrywillige diens is ‘n bousteen – foto 2
Voorblad van Koerania - Julie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar