← Kultuur

· Deur Koerania-redaksie

Vrouemaand: vrouebeelde en monumente – Augustus 2026

Sy verbeeld moed, deursettingsvermoë en die krag om aan te hou, selfs wanneer die pad moeilik is.

VROUEMAAND – foto 2

Die Voortrekkernooientjie Op die gronde van Meisieskool Oranje in Bloemfontein staan die Voortrekkernooientjie – 'n jong meisie wat met haar ken omhoog en vasberade teen die wind instap. Sy verbeeld moed, deursettingsvermoë en die krag om aan te hou, selfs wanneer die pad moeilik is. Die beeld is in 1939 deur die beeldhouer Laurika Postma geskep en het sedertdien 'n geliefde simbool en deel van die skool se tradisies geword. Dit herinner ons daaraan dat moed nie deur ouderdom bepaal word nie, maar deur die bereidheid om vorentoe te bly beweeg.

Die Voortrekkervrou Die indrukwekkende Voortrekkervrou voor die Voortrekkermonument is die grootste vrouebeeld in Suid-Afrika. Sy simboliseer die dapperheid, durf en deursettingsvermoë van die vroue wat die Groot Trek aangepak het. Hierdie vroue het nie net hul huise en bekende wêreld agtergelaat nie – hulle het hul gesinne versorg, voorrade voorberei, siekes verpleeg en selfs tydens gevegte gehelp om gewere te laai en koeëls te maak. Hulle was die stille krag agter die Trek. Die 2,5 ton-bronsbeeld, geskep deur Anton van Wouw, is op sigself 'n mylpaal: dit was die eerste openbare beeldhouwerk wat in een stuk in brons in Suid-Afrika gegiet is. Vandag staan dit steeds as 'n tydlose huldeblyk aan die moed van die Voortrekkervrou.

Johanna van der Merwe Voor die stadsaal in Moorreesburg staan die standbeeld van Johanna Cornelia van der Merwe – 'n vrou wie se naam sinoniem geword het met buitengewone moed. Tydens die moorde by Weenen op 17 Februarie 1838 het sy meer as 20 assegaaiwonde opgedoen, maar wonderbaarlik oorleef. Die aanval het haar vir die res van haar lewe gestrem gelaat. Haar dapperheid het haar 'n blywende plek in ons geskiedenis besorg. In 1938 is die Noordweste-trek se ossewa tydens die Simboliese Ossewatrek na haar vernoem, en in 1954 is haar standbeeld in Moorreesburg opgerig as huldeblyk aan haar moed en volharding.

Die Aronskelke Die standbeeld van ’n jong meisie wat oorspronklik voor die Pretoria Onderwyskollege gestaan het, dra die woorde: “Moed, Blymoedigheid en Kalmte van gees.” Hierdie beeld is geïnspireer deur Natie du Toit, ’n verpleegster wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Middelburg-konsentrasiekamp diens gedoen het. Te midde van lyding het sy armsvol aronskelke gepluk om tente te versier en kransies te maak – ’n eenvoudige gebaar wat hoop en skoonheid gebring het waar dit die nodigste was. Vandag leef haar nalatenskap voort in hierdie beeld, wat nou op die Universiteit van Pretoria se Groenkloof-kampus staan.

Die vrouebeeld wat geloofsvryheid simboliseer Die indrukwekkende Hugenotemonument in Franschhoek bring hulde aan die Franse Hugenote wat na Suid-Afrika gekom het op soek na geloofsvryheid. Die sentrale vrouebeeld verbeeld hierdie vryheid met 'n Bybel in haar een hand en 'n gebreekte ketting in die ander, terwyl sy die kleed van verdrukking afwerp. Sy staan fier op die aardbol met haar voete op Frankryk – 'n kragtige herinnering aan die moed om vervolging agter te laat en 'n nuwe toekoms tegemoet te stap. Die monument, geskep deur Coert Steynberg, is op 14 April 1948 ingewy.

Bron: Die Erfenisstigting Kry jou eksemplaar van 𝑊𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑣𝑒𝑟 𝑏𝑜 𝑘𝑜𝑟𝑎𝑙𝑒: 30 𝑣𝑟𝑜𝑢𝑒𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑𝑒 𝑖𝑛 𝑆𝑢𝑖𝑑-𝐴𝑓𝑟𝑖𝑘𝑎 deur Elizma Smith by KultuurKafee: https://kultuurkafee.com/.../waarde-ver-bokorale-30.../

VROUEMAAND – foto 1
VROUEMAAND – foto 5
VROUEMAAND – foto 3
VROUEMAAND – foto 4
Voorblad van Koerania -Augustus 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2026, bladsy 13

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar