Die Orania Tegnologievereniging het aan die einde van 2024 'n baie geslaagde gespreksaand oor voedselsekerheid in Orania aangebied. Onder die teenwoordiges was ou bekendes sowel as nuwe inwoners van die dorp, besigheidslui en inwoners met 'n passie vir tuine en kleinskaalboerdery. Van groot landbouplanne tot klein tuintjies, almal was daar om meer te leer oor die belangrikheid van voedselsekerheid. Die aand het afgeskop met 'n ligte ete, waarna Dawid de Koker die geleentheid met gebed geopen het. Die hoogtepunt was die aanbieding deur Jacob Middel, 'n landboukundige met jare se ervaring, wat sy kundigheid en insig oor volhoubare voedselproduksie en die uitdagings rondom voedselsekerheid met die gehoor gedeel het. Samevatting: Jacob Middel het die belangrikheid van voedselsekerheid en die rol van Orania in die strewe na selfstandigheid benadruk. Hy het verduidelik dat voedselsekerheid beteken dat elke mens te alle tye toegang tot voedsame en veilige kos moet hê. “Dit vereis 'n gemeenskapsbenadering en 'n strategiese plan wat in fases geïmplementeer word,” sê Jacob. Hy het die noodsaaklikheid van samewerking beklemtoon en verduidelik dat die gemeenskap oor die volgende vyf jaar 'n aksieplan in plek moet stel wat 'n balans tussen ekonomiese, sosiale en omgewingsfaktore sal bewerkstellig. Daar was groot belangstelling en talle vrae en bydraes vanuit die gehoor, wat getoon het hoe diep die saak in die hart van Oraniërs rus. Besoekers was veral beïndruk deur die pragmatiese stappe wat die Tegnologievereniging voorstel, soos die vestiging van 'n gemeenskapstuin, die ontwikkeling van 'n koöperasie, en die uitbreiding van plaaslike markte vir vars produkte. Databasis vir voedselproduksie As deel van die plan is die Vereniging tans besig om 'n databasis saam te stel wat die huidige betrokkenheid van mense by voedselproduksie dokumenteer. Hierdie databasis sal help om die omvang van voedselproduksie in Orania beter te verstaan en toekomstige samewerking te vergemaklik. Enigiemand wat tans betrokke is by of belangstel in voedselproduksie word aangemoedig om hulle besonderhede by die Vereniging te registreer. Enigiemand wat wil aansluit of meer wil leer oor toekomstige projekte, is welkom om die Orania Tegnologievereniging by 082 388 1409 te kontak. Met die samewerking van plaaslike leiers en die ondersteuning van Oraniers, lyk die toekoms rooskleurig vir 'n selfstandige, voedselseker gemeenskap.
· Deur Ludwig Everson
Voedselsekerheid op die agenda
Die Orania Tegnologievereniging het aan die einde van 2024 'n baie geslaagde gespreksaand oor voedselsekerheid in Orania aangebied.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2025, bladsy 5
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


