
Onwelkome gevalle van vandalisme is onlangs in Orania aangemeld. Nuus van dié voorvalle is met teleurstelling deur die gemeenskap ontvang. Alhoewel die meerderheid gevalle wat by die Orania Veiligheidsdienste (OVD) aangemeld word alkoholmisbruik, dwelm misbruik of maatskaplike konflik insluit, was dié optrede beslis veroordeel. “Die kamera wat op die beeldekoppie gerig word het 'n draai-aksie en moes tydens die gebeure in 'n ander rigting gedraai het,” vertel Ettiene de Lange, hoof van OVD. Hy stel die gemeenskap egter gerus met die nuus dat die skuldige partye gevind is nadat daar 'n beloning aangebied is. Dié oortreders is minderjariges en inwoners van Orania. “Die kinders voer aan dat hulle verveeld was,” verduidelik Ettiene. Die verhoor moet nog plaasvind, maar volgens Ettiene is dit onaanvaarbaar dat enige persoon iets beskadig wat nie aan hulle behoort nie. Hy vertel dat daar tans 5 oop dossiere op OVD se tafel lê. Hy bekla die feit dat inwoners nie die moeite wil doen om 'n saak aanhangig te maak wanneer hulle selfs nietige misdaad beleef of opmerk nie. Die stappe wat geneem word wanneer 'n saak by OVD geopen word is as volg: · ‘n Saak word in persoon by OVD se kantoor aangemeld en geopen waarna 'n SMS van Guillaume van Rensburg ontvang sal word. Foto's en verklarings word hoofsaaklik deur Guillaume hanteer. Die dossier word na regspraak geneem. Rudolph de Beer gaan die dokumentasie na en verseker dat inligting volledig is. Daarna word die dossier na regspraak verwys om die datum vir 'n verhoor of ronde tafel vas te stel. · Regspraak stuur 'n boodskap aan die betrokke partye om hul in te lig dat daar 'n klag of dossier aan regspraak oorhandig is. · Die opvolg van ondersoeke en boetes word eenkeer per week deur OVD gedoen om dossiere op te volg vir indiening van verslae. Besoek die kantoor van OVD by die gemeenskapsveiligheidsgebou vir meer inligting. Kontak die beheerkamer by 060 501 7877 om enige verdagte optrede aan te meld.




