
Mauritz Meyer het op Saterdag 25 Januarie aan die vierde Stronger Together Pad/Veld 3-kampkampioenskappe in Smithfield, Vrystaat, deelgeneem. Die driekampitems bestaan uit swem, fietsry en hardloop. Dit was Mauritz se eerste deelname, maar beslis nie sy laaste nie. Hy en sy vrou Aggie, wat hom deurentyd ondersteun, het Smithfield van Bloemfontein se kant af benader. Bo-oor die bult in Smithfield was die dam sigbaar en die wapperende baniere het duidelike gesê “dit is AAN!” Deelnemers moes die Vrydagaand registreer, hul fiets inboek, sodat dit logistieke reëlings vergemaklik en die oorskakeling na die volgende item makliker maak. Swem eerste – Met sy driekamppak, waarin hy al die items kan doen, het hy vroegoggend vir die 2000m swem ingespring. “Ek het gedink dit gaan maklik wees, omdat ek gereeld oefen, maar met die adrenalien en die opwinding het ek heeltemal te vinnig begin swem. Na 500m toe het ek nie meer asem nie. By die boeie het ek maar gestop om asem te haal . Ek en Christo Muller en 'n man van Jacobsdal was die laaste 3 uit die water van 6 deelnemers in ons afdeling.” Hy verduidelik dat 'n swemkeps en bril toelaatbaar is tydens die swemafdeling Die 90 km fietsry was vir hom baie lekker en dit het vir hom gevoel of die bekende fietsrydae half ingeskop het. “Ek kon gelukkig 'n paar plekke opmaak met dié been.” Die roete was uitdagend met 'n rollende landskap. Iets wat nie maklik is nie, want Orania se landskap is nogal plat.” Sy valhelm, fietsryskoene en 'n watersak was noodsaaklike bybehore. Hy het geweet dat die 21km se hardloop nog wag, maar kon redelik hard ry in die been sonder om homself uit te put. Mauritz vertel dat hy vir die eerste 15km nog saam met die 3 manne wat laaste uit die water was gery het. Vir die laaste byna 70km het hy alleen gery. “Jy probeer op jou pas fokus sodat jy jou uithouvermoë kan reguleer. Die roete is so gestel dat jy die heeltyd by alle deelnemers verby ry. Jy begin naderhand jou ritme uitwerk om te dink of jy enigsins 'n kans staan om dalk 'n plek te behaal, of nie. Dit kan nogal verwarrend raak, maar moet nie jou fokus wees nie.” Fietse moet eers op die rakke teruggehang word voordat individue kan aantrek vir die hardloopbeen. Volgens die aankondiger was hy in die tweedeplek na die fietsry. Net daar begin die somme toe in sy kop spin, want hy beskou homself nie as 'n vinnige hardloper nie. Minute het nou begin getel. Deelnemers moes op die warmste tyd van die dag die hardloopbeen aanpak. Met sy sonbril, 'n keps en tekkies gewapen het hy die 21km aangepak. “Van die begin af het ek 'n redelike stadige pas gehandhaaf. Soos ek geoefen het, het ek agtergekom dat my tempo te hoog is. Ek het op 'n laer hartklop my tempo bepaal. Ek het geen idee gehad waar ek geplaas was nie. Ek wou net hardloop om klaar te hardloop,” beklemtoon hy. Daar was elke 2.5km 'n welkome waterpunt. Die hardlooproete was 'n herhaling van die fietsryroete. “By die 7.5km waterpunt het ek gedink ek is vierde. Op 10.5km het ek gedink ek sal die voorstes kry, maar daar was 3km tussen ons. Ek was op gewees!” Hy verduidelik die verskil tussen 'n driekamp en 'n halfmarathon: “Vir 'n halfmarathon begin jy vars en voltooi slegs jou kilometers. Met driekamp handel jy twee strawwe items af voordat jy om ongeveer 10:30 begin hardloop. Mauritz het sy tweedeplek om 12:50 voltooi, toe die temperature op 34 grade gestaan het. Hy wou binne 'n sekere tyd klaarmaak en ten minste onder 7 ure die uitdaging voltooi. Hy het die driekamp binne 6.50.32sek voltooi. Tiaan, verdedigende kampioen en 'n geharde sportman, het gewen. Mauritz skram nie weg van die opofferings wat hy moet maak om te oefen nie. “Ek moes gemiddeld 10 ure per week oefen, en dan is daar werk, huis en familie wat ook aandag moet kry. My ooreenkoms met my vrou is dat ek nou bietjie gaan fokus op die huis en familie vir 'n rukkie, voor ek die volgende een aanpak. Dit is beslis 'n volgende vlak waarheen iemand beweeg indien hul deelneem aan 'n rits hiervan gedurende die jaar.” Helè Niehaus is die direkteur van Stronger Together Driekamp en het vir Koerania vertel hoe die resies sedert 2021 gegroei het. Hul het toe met 130 deelnemers begin en vanjaar het meer as 300 dapper deelnemers. Sy voeg by: “Die Triathlon gaan vir my oor die respek en die passie wat ek vir Driekamp het. Ek is 'n internasionale driekampatleet en ek deel my liefde daarvoor, vir mense en vir my gemeenskap met die wêreld. Ek wil mense sien glimlag en ek wil mense sien presteer.” Die hele naweek was volgens Mauritz skitterend georganiseer en hy sien reeds uit om sy tyd in 2026 te verbeter.





