
Nadia Kuit (36) gesels met die ysters in die gimnasium. Dit is daar waar sy haar kop skoon kry en stoom afblaas. Alhoewel sy nie Maatskaplike Werk as 'n studierigting gekies het nie, is dit waarvoor sy by die Bo-Karoo Opleidingsentrum aangestel is. “Ek het vir Sielkunde ingeskryf en toe ek in 2008 by die Noordwes Universiteit se kampus aanmeld is daar vir my 'n verkeerde kode gegee. Dit het beteken dat ek toe by die Maatskaplike Werk departement geregistreer was,” vertel Nadia byna 17 jaar later. In 2018 het sy besluit dat sy wou spesialiseer en het toe haar meestersgraad in Kinderbeskerming gedoen. “Ek is tans met my doktorsgraad daarin besig met die fokus op verlies, waar kinders verwyder word.” Sy glo dat die Here haar in dié beroep geplant het. Vanaf 1 Junie is sy ook by Helpmekaar as Maatskaplike werker betrokke. In haar vroeë 20's het sy die gimnasium in Middelburg ontdek omdat sy 'n bietjie gewig gehad het om af te skud. Sy het skolenetbal gespeel en was 'n hulpdoel en soms verdediger vir die span in Hoërskool Piet Retief, maar andersins was sport nie hoog op haar aksielys nie. Nadia glo: “'n Gemaksone is 'n lekker plek om te wees, maar mens groei nie daar nie.” Toe sy in Bloemfontein gewoon het, het Bootcamp haar aandag getrek. Die gogga het haar gebyt en sy het aan hinderniswedrenne begin deelneem. Sy moes haar drafvernuf opskerp en daag haarself steeds daarmee uit. Uithou en kragoefening is volgens haar 'n direkte skakel met hoe jy die lewe moet benader. “Aanhou en deursettingsvermoë kan jou verbaas,” deel sy. Sy vertel dat die eerste deelname moeilik en uitdagend was. Sy het egter deurgedruk, want haar lewensreis tot hier het haar geleer dat vasbyt noodsaaklik is. “Soms moet jy stop, rus en asemhaal, en ander kere moet jy weer voluit aangaan.” Hierdie lenige vrou glo dat enige meisie ook op innerlike krag moet kan staatmaak. Dit is vir haar simbolies. Sy het nie oefenvriende nie, want sy maak haar kop skoon tydens haar oefensessies. Sy beskou die alleentyd as stresbestuur en dié uur in 'n dag waar sy haar kop voorberei op die lewe. Naweke oefen sy haar langafstandfiksheid. Nadia se ouers woon sedert 2012 al in Orania en sy woon tans by hulle. Sy het 2 broers wat al vir kleinkinders vir ouma en oupa gesorg het. Dié plaasmeisie geniet die rustigheid en veiligheid wat Orania bied. “Dit is 'n minder gejaagde lewe en dit bly vir my 'n voorreg om tyd saam met my ouers te spandeer,” sê sy. Sy verduidelik dat die rustigheid nie verwar moet word met niksdoen nie, maar dat die atmosfeer in Orania vir 'n rustiger leefstyl sorg. Sy praat met lof van haar kollegas by BKO en geniet die voordeel daarvan om met haar eie mense, Afrikaners, te kan werk. As 'n atleet het sy vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Hindernisbane deelgeneem. Dit is oor 2 dae in Bloemfontein aangebied. Op dag 1 moes sy 5km hardloop en 40 hindernissse voltooi. Dag 2 was daar 3km om kaf te draf en 20 hindernisse. In haar ouderdomskategorie het sy tweede geeindig. Die Bloemfontein Battle Ground is 'n funksionele fiksheidsuitdaging wat sy op 15 Mei aan deelgeneem het. Sy beoog om weer in Julie deel te neem. Dié kompetisie bestaan uit 4 bene. Jy kry op grond van jou posisie punte, wat beteken dat jy die resies of die reeks kan wen. Sy het aan die Mimosa halfmarathon deelgeneem waar daar duisende atlete was en in die Bo-Karoo Vasbyt in Orania het sy 'n derde plek verower. Gedurende Augustus vanjaar gaan sy vir die eerste keer die Deadly Dozen in Bloemfontein aandurf. Dit bestaan uit 12 rondtes hindernisse wat teen 'n hoë tempo voltooi moet word. 'n Oefenroetine bestaan vir haar uit iets van alles. “Ek probeer krag en fiksheidsoefeninge kombineer. Daar is dae wat ek op krag, uithouvermoe en metaboliese kondisionering fokus. Ek werk langafstande in waar moontlik en poog om funksionele fiksheid vol te hou. Ek geniet die verskillende elemente van oefen, sodat dit interessant moet bly. Ek wil nie in 'n vervelige roetine verval nie,” sê sy. Ander stokperdjies van haar sluit musiek en perdry in. Sy kry nie baie tyd daarvoor nie, maar geniet 'n stokperdjie wat haar aktief besig hou. Sy sal nie nee sê vir 'n luilekker fliekdag in die bed nie, veral wanneer dit koud is. Nadia se raad aan onfikses in die winter is om op te staan en iets te doen voor jou brein uitvind waarmee jy besig is. “Die eerste kilometer is 'n leuen. Dit is dan erg, maar as jy goedvoelhormone begin vrystel word dit lekker. As jy warm word en aan die gang is, kan die koue jou nie vat nie. Klim uit die gemaksone uit. Die resultate sal die moeite werd wees!”





