← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Tuisversorgingstudente brei hul selfkennis uit

Sy vertel dat praktiese voorbeelde en rolspel vir hulle waardevol was omdat dit van papier na praktyk oorgedra is.

Tuisversorging beteken innerlike versorging… Nella, Chrisna, Megan en Dia van Staden staan voor. In 'n sirkel van links is Anrique, Lumé, Wian, Anika, Chris-Mari, Jaydee en Lyndré.
Tuisversorging beteken innerlike versorging… Nella, Chrisna, Megan en Dia van Staden staan voor. In 'n sirkel van links is Anrique, Lumé, Wian, Anika, Chris-Mari, Jaydee en Lyndré.

Die Bo-Karoo Opleiding se Tuisversorgingstudente het drie dae saam met lewensafrigter, Dia van Staden deurgebring, terwyl daar onder andere oor kommunikasie, emosionele intelligensie, selfbeeld, konflikhantering en persoonlikhede gesels is. “Die groep studente het veral ywerig aan die bespreking oor persoonlikhede deelgeneem en het die rolspel tydens die kommunikasiesessies insiggewend gevind,” vertel Dia. Sy vertel dat praktiese voorbeelde en rolspel vir hulle waardevol was omdat dit van papier na praktyk oorgedra is. Die studente het getuig dat die telefoniese rolspelsessies vir hulle baie moontlike kwelvrae van kliënte, en hul reaksie daarop, demonstreer het. Die meerderheid melankoliese persoonlikhede het duidelik na vore gekom toe daar oor konflik gesels word, want hulle wou nie graag die tema verbaal ontdek nie. “Die wegskram van konflik en 'n hoë persentasie wat eerder kompromieë sal aangaan, kon egter verduidelik word sodat daar na 'n oplossing van konflik gewerk kan word.” Dia erken dat 'n hoë vlak van emosionele intelligensie soms benodig word om konflik sonder aggressie of 'n heftige humeur op te los. Dia deel dat dié groep met hulle optrede oor die drie dae getoon het dat hulle meer kwaliteit verhoudings wil bou. Volgens Dia het die studente se terugvoer daarop gewys dat hulle elkeen uitsien na 'n gelukkige en positiewe toekoms. “Die meerderheid het verwoord dat hulle met mense wil werk en 'n verskil wil maak in mense se lewens. Dit is noemenswaardig,” voeg Dia by.

Anrique in aksie tydens die telefoonetiket se rolspel.
Anrique in aksie tydens die telefoonetiket se rolspel.
Chrisna wil 'n ernstig kwessie van 'n pasiënt oplos en versamel soveel moontlik inligting.
Chrisna wil 'n ernstig kwessie van 'n pasiënt oplos en versamel soveel moontlik inligting.
Voorblad van Koerania - Maart 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2025, bladsy 11

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar