
Voordat ons elke Temperament van nader bekyk, ‘n kort verwysing na die ontwikkeling van die Vier Temperament Teorie oor 2 500 jaar. Hippokrates het veronderstel dat gesondheid en gedrag bepaal word deur vier liggaamsvloeistowwe: bloed, geelgal, swartgal en slym en dat ‘n wanbalanse in die vloeistowwe siektes en gedragsveranderinge veroorsaak. Maar intussen het dosyne ander persoonlikheidsteorieë ontwikkel. Hoewel die verband tussen liggaamsvloeistowwe en persoonlikheid nie die toets van die tyd deurstaan het nie, het die ontleding van persoonlikheid aan die hand van vier temperamente wel (so ook Hipokrates se name). Vandag is daar impiries bewys dat ons persoonlikheid gevorm word deur ‘n wisselwerking tussen ons biologiese temperament en ons ervaringe. Dit sou 'n oorvereenvoudiging wees om te sê dat 'n persoon slegs deur een van die vier Temperamente gekenmerk kan word. Ons is almal 'n mengsel van ten minste twee; die een oorheers, die ander is sekondêr. Onderliggind aan elke Temperamente is spesefieke dieperliggende BEHOEFTES. Dit bepaal elke Temperament se tipiese gedrag. Waneer ons behoeftes bedreig word, voel ons verplig om op ‘n sekere manier op te tree. Dit is net so sterk soos die behoefte om te eet. As ons honger nie versadig word nie, sal ons enige iets doen om dit te stil. Die Sanguine – Geel Gal Hul diepste emosionele behoefte is om ingesluit te voel; om raak gesien te word; om erkenning te ontvang en sintuiglik gestimuleer te word. Hul breine prioritiseer nuwe ervarings; hul optimisme is 'n oorlewingsmeganisme en hulle filter outomaties negatiewe stimuli uit. Hulle "kies" nie om gelukkig te wees nie; hul is bedraad om heeleerste belonings raak te sien. Hulle fokus instinktief op die positiewe en om hoë energievlakke te behou. Hulle is die mees ekstrovert van al die temperamente. Ek skilder vir jou ‘n prentjie, kyk of jy jouself, of ander hierin kan herken: Ek het haar een lenteoggend ontmoet. Ek het ’n seminaar oor Vroeëkinderontwikkeling namens die Jongvroueliga gereël. Ons het pas begin toe sy die vertrek deur die verkeerde deur binnekom. Sy het haar aankoms aankondig asof sy die eregas was vir wie ons gewag het. Santa het ’n heldergeel rok gedra en met groot armgebare verklaar dat sy jammer is sy is laat. Ek het agter in die vertrek gestaan, die ander mense het reeds gesit. Sy het vir my gewuif asof ons ou kennisse was, terwyl sy vir haarself ’n sitplek in die voorste ry uitgesoek het. Santa het entoesiasties aan die besprekings deelgeneem, en op ’n stadium het sy opgestaan, na die gehoor gedraai en haar mening oor die saak gelug asof sy spesifiek daarvoor gevra is.
Ons het beste vriendinne geword. Sy het by die Jongvroueliga aangesluit en was die inspirasie vir baie geleenthede wat sou volg. Met haar betrokkenheid het ons ledetal verdubbel en het ons meer uitdagende geleenthede aangebied – meestal haar idees. Santa het nie veel van die fisiese werk gedoen nie, maar was altyd daar om ons aan te moedig; en wanneer ’n geleentheid nie so suksesvol was nie, het sy ons verseker dat die volgende een ’n groot sukses sou wees.
Santa het die hart en siel van die organisasie geword; sy het van almal se vreugdes en sorge geweet.
Maar ’n paar jaar later is haar man na ’n ander dorp verplaas, en ons het nooit weer van haar gehoor nie.
Ons kyk volgende keer na die uitdagings van die Sangieuse temperament.





