← Gemeenskap

· Deur Contessa Kruger

Tipes, temperamente en teorieë – Oktober 2026

Wanneer hulle bedreig voel, aktiveer hul onderbewuste verdedigingsmeganismes.

Contessa Kruger – www.herlaai.co.za
Contessa Kruger – www.herlaai.co.za

Stralende Sanguinikus word Skaamteloos Sensasioneel

Omdat die Sanguinikus 'n diep, onderliggende angs vir verwerping, isolasie en uitsluiting beleef, sal hulle alles doen om te verhoed dat hulle geïgnoreer of geïsoleer word. Wanneer hulle bedreig voel, aktiveer hul onderbewuste verdedigingsmeganismes. Hulle soek voortdurende na eksterne stimulasie en aandag om hoë dopamienvlakke te behou. Hulle sal feite oordryf om hul storie beter te laat klink; buitengewoon luidrugtig raak; ander in die rede val sodat die aandag op hulle gevestig bly. So selfgesentreerd dat hulle mense se name vergeet en vergeet om op te daag vir iets waarvoor hulle self ingestem het. Hulle weet alles van almal, maar het dikwels nie opregte deernis vir ander nie. Hulle kom baie selfversekerd voor – maar in werklikheid het hulle 'n swak selfbeeld wat gedurig deur goedkeuring van ander herbevestig moet word. Hulle leef na buite - om te weet wat hulle dink, moet hulle daaroor praat. Hulle sê dus dinge waaroor hulle nie gedink het nie wat ander kan seermaak. Die Sanguiniese persoonlikheid is dikwels heeltemal onbewus van hul uitdagings en sal kritiek as ondankbaarheid afmaak. Maar as die besef eers deurdring, is hulle gretig om veranderinge te maak, omdat hul gewildheid op die spel is. Die Choleriese Temperament Hulle diepste emosionele behoeftes is om betekenisvol en waardevol te wees. Hul selfwaarde is nou verbonde aan resultate en doeltreffendheid. Hulle moet in beheer wees om seker te maak dat hulle nie onverhoeds betrap en verneder word nie. Hulle "kies" nie net om die leiding te neem nie; hul breine is biologies geprogrammeer om mag, doeltreffendheid en konkrete resultate eerste raak te sien. Hulle fokus instinktief op oplossings sodat hoë momentum behou word; terwyl struikelblokke of onnodige besonderhede buite rekening gelaat word. Hulle is die mees selfgeldende en taakgerigte ekstroverte van die temperamente. Die Choleriese prentjie: Christopher het in die hoek van die raadsaal gestaan en die interaksie tussen die mense om die tafel dopgehou toe ek instap. Hy het oor sy bril na my gekyk en sonder om 'n woord te sê, na 'n oop stoel gewys. Ek het gehoorsaam gaan sit. Hy het die bespreking vir nog tien minute laat voortduur; die inhoud van die beraadslaging opgesom, seker gemaak dat almal hul rol in die implementering verstaan en hulle gewaarsku om hom nie teleur te stel nie. Net toe almal opstaan, het hy in my rigting gewys en my as die nuwe opleidingsbeampte voorgestel. Hulle het almal beleefd vir my geglimlag en iets soos "Welkom" gemompel. Geen fieterjasies of ophef nie. En so het my vyfjaarreis as opleidingsbeampte in die kleinhandelbedryf begin. Christopher – mnr. Cronjé, soos almal hom genoem het – het altyd gesorg dat almal weet wat van hulle verwag word. As opleidingsbeampte moes ek toesien dat elke 250 personeellede goed opgelei en toegerus was om hul rol te vervul in die goed geoliede masjien wat hy bestuur het. Ons moes beter presteer as al die ander takke; tweede plek was nie 'n opsie nie. Ons winkelinspeksie, vroegoggend, was ononderhandelbaar, hy het dan al die gebiede waar hy verbetering wou sien, uitgewys. Die lynbestuurders het die inspeksies gehaat - mnr. Cronjé het jou net daar en dan voor stok gekry. Hy was onverbiddelik in sy standaarde. Maar hy het die voorbeeld gestel en was altyd eerste by die kantoor en die laaste om te vertrek. Pas die skoen jou? Ons kyk volgende keer na uitdagings van die Choleriese temperament.

Ekstrovert / Introvert
Ekstrovert / Introvert
Voorblad van Koerania - Oktober 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 7

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar