
As jy nie met oogklappe deur die lewe wil gaan nie is dit is belangrik om persoonlikhede te verstaan. Mense het verskillende sterkpunte en swakpunte – of jy wil weet of nie - jy ook. Hoe beter jy jou eie persoonlikheid en dié van ander verstaan, hoe beter sal jy met ander oor die weg kom en hoe meer sal jy onder die besef kom van hoe ander jou beleef en op jou persoonlikheid reageer. Sonder ‘n duidelike begrip van persoonlikhede, raak verhoudinge moeilik en kompleks. Maar om te weet hoe om jou optrede teenoor ander aan te pas - om hulle te pas - hoe makliker raak dit om beter te kommunikeer, of hulle jou kollegas, kinders of huweliksmaat is. Hoe word ons unieke persoonlikheidstipe gevorm of gevestig? Dit is die vraag wat al duisende jare lank gevra word. Ongeveer 450 v.C. het Hippokrates en Plato die vraag al probeer antwood. Sedertdien is dosyne verskillende persoonlikheidsteorieë ontwikkel. Sommige teorieë ondersteun bekende persoonlikheidsassesseringsinstrumente soos Myers Briggs® en DISC; ander is losstaande modelle of teorieë wat nie net persoonlikheid probeer verduidelik nie, maar ook motivering, gedrag, leerstyle ens. Die doel van hierdie reeks is om gedrag, deur middel van persoonlikheidstyle maklik verstaanbaar te maak. Ons wil jou nie met wetenskap verwar nie, maar die inligting op ’n eenvoudige vlak toeganklik maak sodat dit deel van jou algemene kennis kan word.
As vertrekpunt is dit belangrik om te besef dat niemand ten volle weet in watter mate persoonlikheid deur oorerwing of omgewingsinvloede bepaal word nie. Die meeste studies dui aan dat dit 'n bietjie van elk is, rofweg helfte-helfte, hoewel dit natuurlik van persoon tot persoon verskil. Niemand weet eintlik in watter mate persoonlikheid oor tyd verander nie. Dit is seker dat kinderjare ’n groot invloed op die vorming van persoonlikheid het. Dit is ook seker dat ernstige trauma op enige stadium van die lewe ’n persoon se persoonlikheid fundamenteel kan verander. Baie mense blyk ook emosioneel volwasse te word met ouderdom en ervaring, ander ongelukkig nie. Geen persoonlikheid is vas en onveranderlik nie. Wat volg het ten doel om 'n breë, toeganklike (hopelik interessante) vlak van kennis van die algemene persoonlikheidstyle oor te dra, sodat begrip daarvan jou in staat sal stel om aanleg, sensitiwiteite, kreatiwiteit ens. te identifiseer sodat jy jousself en ander om jou beter kan verstaan. Hierdie vlak van bewustheid is veel beter as om glad nie daarvan bewus te wees nie.
VRYWARING: Die doel van hierdie reeks is nie om enigiemand te diagnoseer nie. Raadpleeg ’n geakkrediteerde sielkundige indien jy berading benodig. Mense met kliniese toestande, depressie en ernstige emosionele versteurings het gekwalifiseerde professionele hulp nodig.





