
As hy die geleentheid gegun sou word om 'n Stadsbouer aan te wys sou passie, toewyding en bereidwilligheid om 'n verskil te maak, van die kwaliteite wees om uit te sonder. Theunie Kruger is aan die einde van 2024 as Orania se Stadsbouer aangewys. Hy is die hoof van bedryfstelsels en outomatiseringsafdeling by die Orania Dorpsraad, maar vir die gemeenskap meer bekend as die man agter die klankstelsel by etlike formele funksies en geleenthede waar klank, beligting of digitale projeksies benodig word. “Ek is dankbaar vir die erkenning wat gegee word vir bydraes wat gelewer word, alhoewel ek dié glad nie verwag het nie,” sê hy. Hy is alombekend as 'n nederige man en neem graag 'n blaadjie uit die boek van 'n leier wat inspireer of wat navolgenswaardig is. Die stadsgedagte is vir Theunie maklik verteerbaar en hy kan dit vir homself visualiseer. “As ek na die laaste 33 jaar van Orania se bestaan terugkyk, het hy in politieke klimaat nog nie 'n Volkstaat geword nie, maar hy het heelwat tree gegee en oorwinnings behaal om na 'n stad te groei. Nou, met 'n ekonomie van skaal en 'n groter inwonertal, kan Orania 'n groter seggenskap hê wanneer mens die volgende tree na 'n doelgerigte Volkstaat wil gee.” Theunie en sy vrou Annelize het twee kinders en die jeug lê hom na aan die hart. Hy koester sy verhouding met die Here en wil jongmense aanmoedig om in verhouding met die Here te staan, sodat hulle hul roeping en skeppingsdoel sal vind, verstaan en uitleef. Hy besef die belangrikheid daarvan om 'n voorbeeld te wees sodat hy daardeur die jeug kan beinvloed en ondersteun. “Die jeug moet respek vir hul medemens toon en deur leerbaar te wees sal die Heilige Gees hul met wysheid toerus sodat hul kan uitkom waar die Vader elkeen wil hê,” verduidelik hy met oorgawe. Dié gelowige man, eggenoot en pa haal vir St. Franciscus van Assisi aan: “Verkondig gedurig die evangelie, en as dit nodig is, gebruik woorde.” Hy geniet dit soms om alleen te wees sodat hy oordenkings kan geniet, maar weet dat hy nie die wêreld sal kan bereik as hy nie met mense te doen het of hulle in sy wêreld toelaat nie. “As ons Jesus se voetspore dien, dan moet ek uit my omgewing gaan om in die sendingveld in breë konteks te beweeg.” Sy antwoord op die vraag of tyd of geskenke vir hom belangrik is, reageer hy: “Tyd is vir my kosbaar, want mens kan dit nie terugkry nie. Maar 'n geskenkie nou en dan is lekker.” Theunie is lief vir musiek en Youtube is gereeld sy soekplek daarvoor. Hy geniet 'n dokumentêre televisieprogram of iets wat binne sy belangstellingsveld val. “Wanneer die druk van die lewe my wil inhaal geniet ek 'n lawwe Schuster-komedie of 'n Whackhead poetsoproep.” Theunie doen gereeld diens as lid van die Orania Veiligheidsdienste se noodhulp- en reddingsspanne. Hy trap graag sy fiets werk toe maar geniet dit om vir ontspanning in die water te plas. Hy drink nie koffie, eet nie knoffel of eiervrug nie, en sal branderige kos binne perke eet. Groenrissies is nie vir hom 'n gunsteling toevoeging tot enige gereg nie.
Waar Theunie geleentheid kry om Orania aan besoekers of nuuskieriges te bemark sal hy graag Orania se strewe na Christenwaardes en beginsels, asook die standpunt wat vir die Afrikaner se volhoubaarheid en voortbestaan ingeneem word, verkondig. “My algemene kommentaar is gereeld dat Orania 'n dorp is waarbinne jy 'n verskil kan maak, indien jy sou wou.”
Theunie se fokus vir 2025 is om nader aan die Here te kom, om Sy stem te hoor en Sy leiding te ontvang vir welke situasies oor sy pad mag kom. Hy wil hoop spreek. “Die tyd waarin ons leef is so onvoorspelbaar dat jy slegs op die Vader kan vertrou. Deur getrou saam met die Here te wandel sal ons Sy leiding vir elke daaglikse situasie ontvang.”
“Die skrif wat ek die meeste aanhaal is: Maar soek eers die Koningkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matt 6:33 Getrou aan dié voorloper se aard, sluit hy af met: “Mag my lewe vir iemand iets beteken.”




