← Kultuur

· Deur Leoni de Klerk

Taalweek 2025: Oraniërs bou in Afrikaans!

Afrikaans lê elke Oraniër na aan die hart.

Foto: Karen J van Rensburg.
Foto: Karen J van Rensburg.

Afrikaans lê elke Oraniër na aan die hart. Daarom vier ons jaarliks, op 14 Augustus, Taaldag in Orania. Ons pragtige taal is egter té kosbaar om net een dag per jaar spesiale aandag te laat geniet, daarom vier ons sommer vir 'n week lank fees! Taalweek is al vir jare 'n instelling in ons dorp en hierdie jaar is dit weereens bewys dat ons volk smag na geleenthede om in Afrikaans saam te kuier. Vanaf 9 tot 16 Augustus het die Orania Kunsteraad, oftewel OKeR, gesorg vir aktiwiteite en taalskatte om oud en jonk te vermaak. Belangriker nog, was die geleenthede juis gereël om Afrikaans te bevorder. Ons propvol Taalweekprogram, het op 9 Augustus afgeskop met 'n toneelstuk getiteld “Die vrouens in Langenhoven se lewe”. Dit is 'n produksie aangebied deur, en ten bate van Huppelkind Dagsorgsentrum. Op Maandag 11 Augustus, het die nuwe week op 'n hoë noot begin, met 'n Volksliedjie-aand by Gannaboswoonstelle onder leiding van Christiaan van Zyl. Dit was 'n aand van heerlike samesang saam met Pieter Krige. Bo-Karoo Opleiding se koshuis-sêrgroepe het ook teen mekaar meegeding. Annamarie van der Merwe het die Dinsdag taalspeletjies op BKO se boublad aangebied. Hierdie lokaal is gekies om aan te sluit by ons tema vir Taalweek 2025, naamlik “Ons bou in Afrikaans”. Die Woensdag is die jongspan deur

Huppelkindpersoneel met 'n poppekas vermaak. Later het die gemeenskap by die Gemeenskapsaal byeengekom om plaaslike talent te ondersteun. 'n Musiekblyspel, “Die lewe is 'n lied”, geskryf deur mev. Elsa Nothnagel, is op die planke gebring. Dit was werklik 'n fees! Die terugvoer uit die gemeenskap, is dat dié blyspel van hoogstaande gehalte was en daar is steeds versoeke uit verskeie oorde, dat dit weer opgevoer moet word. Taaldag op 14 Augustus, was propvol aktiwiteite. Reeds van vroegoggend af, kon 'n kuns- en skryfuitstalling in die Orania Beweging se tuin besigtig word. Plaaslike kunstenaars en skrywers is vooraf uitgedaag om te skep met die tema: “Bou in Afrikaans”. Die talent in Orania is merkwaardig! OKeR se orkes het 'n wonderlike atmosfeer geskep met 'n verskeidenheid instrumente en liedjies. Daarna het professor Das Steyn die boek “Die Digter van Doringkraal” deur die outeur Kas van den Bergh, bekendgestel. Die dag is afgesluit met 'n aanbieding deur dr. Wikus Buys, met die tema: Die Bybelse idee van “bou”, soos blyk uit die metafoor van die vrou. Die Vrydagaand was dit tyd vir die jaarlikse Kortfilmfees. Carel 5 Boshoff was aan stuur van sake en oud en jonk het hul vernuf getoon met tegnologie en regie. Daar was hierdie jaar vier kategorieë: onder 25's, onder 125's, advertensies en animasie. Groot pryse was op die spel en tydens hierdie glansgeleentheid is erkenning aan die vervaardigers van hierdie kortfilms gegee. Ook by hierdie geleentheid, het die orkes hul absoluut goed van hul taak gekwyt, met die speel van filmmusiek. Die bekendstelling van die boek “Elly Holm, Van Berlyn tot Hartbeespoort” deur professor Dieter Holm, het die Saterdagoggend plaasgevind. Dit handel oor prof. Holm se ma, bekende kunstenares Elly Holm. Die outeur se suster, plaaslike kunstenares Cornelia Holm, het ook die verrigtinge bygewoon. Taalweek 2025 is afgesluit met 'n heerlike ontspanne kunsmark in die Gemeenskapsaal. Handgemaakte produkte en smaaklike eetgoed is te koop aangebied en OKeR se orkes, sowel as ander plaaslike musikante het gesorg vir lieflike agtergrondmusiek. Dit is met tevrede en dankbare harte wat OKeR terugkyk op 'n suksesvolle Taalweek 2025. Verskeie borge en ondersteuners het bygedra tot die sukses van elke geleentheid. “Mag Taalweek elke jaar 'n hoogtepunt op Oraniërs se kalender wees, maar die viering van Afrikaans nie beperk wees tot slegs 'n week per jaar nie. Bou elke dag in en aan Afrikaans. Ons taal is kosbaar en die voortbestaan daarvan is in ons hande (en monde)!”

Taalweek 2025: Oraniërs bou in Afrikaans! – foto 1
Taalweek 2025: Oraniërs bou in Afrikaans! – foto 3
Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar