
Rob en Sandy Nolan het op 23 Mei 2023 as die eienaars van Sugarbush Café hul deure geopen. Die egpaar het 23 jaar in Centurion gewoon, maar Rob het 'n paar jaar gelede al boukontrakte in Vanderkloof aanvaar en bied ook begeleide vlieghengel in die Vanderkloofdam aan. Sandy het in Junie 2024 permanent in Vanderkloof kom vestig. Sedert die opening van die restaurant het sy wel elke 4 tot 6 weke na die dorp gereis om na hul sakebelange om te sien. Die egpaar het besef dat die gemeenskap en toeriste 'n behoefte het vir 'n plek waar hulle kon ontmoet en saam kon eet. Die kafee-stylomgewing van Sugarbush Café leen hom tot 'n kuierplek waar alle ouderdomme 'n heerlike koppie koffie of 'n bord smaaklike kos in 'n ontspanne atmosfeer kan geniet. “Wanneer ons plek gepak is met tevrede kliënte, laat dit ons harte warm klop,” vertel hulle. “Ons is trots op doeltreffende, vriendelike diens en het ruim en smaaklike porsies wat ons graag so aanbied dat mense ook met hul oë kan eet.” Sugarbush bied kombuistees, intieme verjaardagpartytjies, verfaande en is die perfekte venue vir nog 'n groot verskeidenheid funksies. Het jy behoefte aan 'n kreatiewe geleentheid? Gesels met hulle oor jou idee en hulle sal dit 'n realiteit maak! Hulle geniet na 2 jaar steeds hulle eie disse op die keurige spyskaart. Albei geniet die vullende omelette vir ontbyt en later deur die dag is die houtvuur pizzas, veral die Tikka
Hoenderpizza, asook die sappige lendeskywe, gunstelinge. Sandy neem deesdae die voortou wanneer daar oor die keuse van geregte en die aanbieding daarvan besluit word. Hulle sien daarna uit om meer van hul gunsteling geregte bekend te stel en daarop uit te brei. Hulle is albei avontuurlustig en wil graag meer van hul kliënte daaraan blootstel. Rob bied begeleide vlieghengel daguitstappies of pasgemaakte visvanguitstappies vir klein groepe, plus boot- en platboombootritte op die Vanderkloofdam aan. Aangesien dit Sugarbush se verjaardagmaand is, gaan daar gedurende die week van 25 tot 31 Mei pryse gewen kan word! Kliënte gaan 'n ballon prik om 'n prys te wen indien hul meer as R250 spandeer. Boonop sal daar dan afslag en spesiale aanbiedinge op besoekers wag. Hou Sugarbush Café se Instagram- en Facebook-bladsye dop vir hul feestelike aanbiedinge.




