← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Stadsbouer, werkgewer en werknemer van die jaar 2025

Op Dinsdag, 9 Desember is die jaarlikse stadsbouer, werkgewer en werknemer van die jaar toekenningsgeleentheid aangebied.

Werkgewer... Conrad Basson is deur die gemeenskap erken as die werkgewer van die jaar en het sy toekenning van Riaan Visser ontvang.
Werkgewer... Conrad Basson is deur die gemeenskap erken as die werkgewer van die jaar en het sy toekenning van Riaan Visser ontvang.

Op Dinsdag, 9 Desember is die jaarlikse stadsbouer, werkgewer en werknemer van die jaar toekenningsgeleentheid aangebied. ‚n Groot getal mense het by die Maranata Aanbiddingsentrum vergader waar die opgewondenheid tasbaar was om uit te vind wie hierdie jaar met die gesogte toekennings sou wegstap. Die program het 'n insiggewende praatjie van Flip Buys oor die Afrikaner, Suid-Afrika en Afrikaners ingesluit asook die vraag wat Hannes Noëth beantwoord het oor hoekom ons 'n Stadsbouer van die jaar toekenning maak. Paul Vogel het verduidelik hoe die studente van BKO integreer in die gemeenskap en dr. Dirk Hermann het 'n inspirerende praatjie gelewer oor die adelheid van arbeid. Die teenwoordiges was nie net opgewonde om uit te vind wie die wenners is nie, maar ook oor die gelukkige trekking waar benoemde individue die kans staan om 'n prys te wen. Groot pryse is weereens hierdie jaar weggegee en die benoemdes het nie net met gelukkige harte nie, maar ook met lekker pryse, eetgoed en iets te drinke die aand afgesluit. In die stadsbouer kategorie is Susan Coetzer van Eureka Nood-en Reddingsdienste as wenner aangewys. Die tweede plek is ingeneem deur Fanus Becker van Knapsak en Riaan Jacobs van Orasol is die derde plek benoem. Conrad Basson van Eden & Co is aangewys as werkgewer van die jaar. Magdaleen Kleynhans van Sendata het die tweede plek ingepalm en Tikkie Delport van Snippie Snappie die derde plek. Die werknemer van die jaar is Joan Swanepoel, 'n voortreflike onderwyseres by die CVO-skool Orania. Tracy Solomon wat werksaam is by Karoosig Aftree-oord het die tweede plek verower en Heidi Smit van Orania Helpmekaar die derde plek. Hartlike dank word deur die Solidariteit se Netwerksentrum uitgespreek aan elkeen wat teenwoordig was en die aand, aangebied deur Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand, spesiaal gemaak het.

Werknemer... Juffrou Joan Swanepoel spog met haar toekenning, want sy weet dat haar werk met kinders dié belangrikste bousteen in 'n mens se lewe is. Sanri Stone, Netwerk Koördineerder, het haar toekenning na die geleentheid aan haar oorhandig.

Stadsbouer... Susan Coetzer weet wat dit is om haar gemeenskap te dien. Sy het haar toekenning, deur dr Elsja Hermann oorhandig, in ontvangs.
Stadsbouer... Susan Coetzer weet wat dit is om haar gemeenskap te dien. Sy het haar toekenning, deur dr Elsja Hermann oorhandig, in ontvangs.
Voorblad van Koerania - Desember 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Desember 2025, bladsy 11

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar