← Gemeenskap

· Deur dr Wikus Buys

Staan vas in die vryheid van Christus – Februarie 2026

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” Gal. 5:1. Vryheid kan op die lippe wees, maar soms weg uit die hart verdwyn. Vryheid is ‘n geskenk, wat opgepas moet word. Vryheid is ‘n gawe wat in agterlosigheid verloor kan word. Die brief wat Paulus aan die Galasiërs skryf, handel in die besonder hoe mens vry word van jou sonde voor God. Regte en verkeerde manier In daardie gemeente was daar twee maniere van dink oor die saak. Daar was diegene wat uit die heidendom bekeer was. Vir hulle het die Christene gesê wat uit die Jodedom bekeer is: julle moet steeds die Ou Testamentiese reëlings hou, om ‘n Christin te kan wees. So het hulle vereis dat die nuwe Christene byvoorbeeld eers besny moes word om te wys hulle is regtig gelowiges. Hierteen antwoord Paulus baie skerp. Paulus wys dat daar ‘n regte en ‘n verkeerde pad is. Om jou geregtigheid voor God te soek deur wette te onderhou, soos die besnydenis reël, is nie reg nie. Deur geloof alleen gered Iemand word alleen gered deur die geregtigheid van die geloof. Dit beteken dat Christus se kruis en opstanding so vir jou waarde het. Jou geloof verbind jou aan Christus en wat Hy gedoen het tel dan asof jy dit self gedoen het. Dus sê Paulus as iemand geregtigheid voor God soek deur allerhande wette te wil onderhou, dan het so iemand nie deel aan Christus nie. Die enigste weg tot redding is deur die geloof in Christus, nie deur wette en reëls te onderhou nie.

Ware vryheid is ‘n geskenk Dit is die ware vryheid. Vryheid is wanneer God aan jou vergifnis gee van al jou sondes op grond van wat Christus gedoen het, en jy dit werklik glo. Hierdie vryheid is die egte vryheid wat as ‘n geskenk gegee word en wat nie verdien word deur iets wat jy van jou kant af doen nie. Wanneer mens ware vryheid besit deur geloof alleen, dan beïnvloed dit jou hele lewe. Dit raak ook al die lewe se fasette. Wanneer mens eers vry geword het in Christus deur geloof, moet jy in dié vryheid vas staan. Jy moet op jou pos bly, jou roeping uitvoer. Jy moet die vryheid oppas en dit nie weer uit ou hande laat glip nie. Jy moet nie weer in kettings gebind en ‘n slaaf van enige iets of iemand wees nie. Geloof – ook geskenk Mens word deur God vrygemaak van sonde en sondeskuld. Hy doen dit deur Jesus Christus se kruis en opstanding. Dit word jou deel slegs wanneer jy dit in die geloof jou eie maak. God self gee hierdie geloof, selfs dit is nie ons eie werk toedoen nie (Efes. 2:8). Die Heilige Gees werk die geloof deur die Woord. Dan is jy vry om te doen met jou lewe wat God daarmee wil doen. Vryheid is kosbaar. Vryheid is duur – dit kos immers Jesus Christus se lewe. Vryheid is om los van sonde vry te wees om God met jou hele lewe te aanbid en dien.

Voorblad van Koerania - Februarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2026, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar