← Sport

· Deur Johan de Klerk

Sinkplaatfietstoer – vir die ervare en minder ervare bergfietsryer

Die Sinkplaatfietstoer het vanjaar sy eerste afgeskop gehad.

Foto's: Dia van Staden Die hele groep ryers het tydens die bymekaarkom sommer gou aan die gesels geraak om mekaar te leer ken.
Foto's: Dia van Staden Die hele groep ryers het tydens die bymekaarkom sommer gou aan die gesels geraak om mekaar te leer ken.

Die Sinkplaatfietstoer het vanjaar sy eerste afgeskop gehad. Dit was ʼn 175 km bergfietsroete wat in Orania begin het en weer in die dorp geëindig het. Dit het van 18 tot 20 Desember plaasgevind. Daar is drie dae gery en twee nagte oorgeslaap. Ryers het ʼn ligte rugsakkie saamgedra en ʼn ondersteruningsvoertuig het saamgery. Die fietstoer het iets gebied vir die ervare en die minder ervare ryer. Die gedagte was dat elkeen op sy eie tyd die daaglikse afstande kon voltooi. Daar was plek vir 14 ryers en al die plekke was opgeneem. Ryers van Gauteng, Noord-Wes, Vrystaat, Noord-Kaap en Orania het deelgeneem. Dag 1, ongeveer 53,7 km: Daar is by die kantore van die Orania Beweging weggespring. Die eerste afdraai was na die Vluytjeskraalbrug. Hier is etlike kilometer langs die Rama-kanaal gery om ʼn blik te kry op die kanale wat destyds deur die Departement Waterwese gebou is. Later is daar weer teruggekeer na Witputgrondpad. Ryers het gery tot by Wiida-gasteplaas en daar oornag. Hier is hulle getrakteer met ʼn heerlike aandete waar biefstuk, 'n aartappelgereg, slaai, sap en roomys bedien is. Dag 2, ongeveer 80,9 km: Ryers het vroeg in die pad geval en by Klipkraalpadstal ʼn heerlike plaasontbyt geëet. Vandaar het hulle weer die roete aangedurf, in die rigting van die Oranjerivierstasie. Die treinbrug oor die Oranjerivier is gekruis en ʼn besoek is gebring aan die Doornbultkonsentrasiekamp. Daarna is die pad al langs die treinspoor gery tot by Kraankuil. Vandaar ʼn verdere 27 km tot by die plaas, Vanwyngaardspan, waar daar by die Jagkamp oornag is. Hier is ryers bederf met lamspotjie, rys, potbrood, slaai, sap en nagereg. Dag 3, ongeveer 40,9 km: Die einde is byna in sig. Die dag is begin met ʼn plaasontbyt, waarna die pad terug na Orania aangepak is. Dit is hoofsaaklik teerpad wat omring word met tipiese Karoolandskap. Om 11:00 het die toer ten einde geloop en het die toergroep saam by Melk en Heuning iets verfrissend genuttig. Ek en Pieter Bisschoff het die toer georganiseer. Ek (Johan de Klerk) reël jaarliks ʼn staptoer en het probeer om die stempel van ʼn staptoer op ʼn bergfietstoer af te druk. Die twee menere is dit eens dat die eerste poging ʼn groot sukses was en bedank elkeen wat ingeskryf het. Daar word reeds beplan aan 2025 se toer en ʼn nuwe roete word ondersoek wat deelname vir 20 ryers moontlik sal maak.

Deelnemers aan die Sinkplaatfietstoer.
Deelnemers aan die Sinkplaatfietstoer.
Die fietsryers kuier saam.
Die fietsryers kuier saam.
Die bergfietsry-avontuur.
Die bergfietsry-avontuur.
Voorblad van Koerania - Januarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2025, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar