← Nuus

· Deur Dia van Staden

Servituutpad se opknapping vorder

Meer as 'n jaar gelede het die Orania Dorpsraad se Ingenieursafdeling 'n opname in die gemeenskap gemaak waar die opsies vir teerpaaie gelys was.

Ons padbouers... Voor staan Renado de Swardt en Martin Ras, Lourens van den Heever en Jan Kruger sit op die roller. Francois Dirker, Andre v Heerden en Martin vd Westhuizen voltooi die span.
Ons padbouers... Voor staan Renado de Swardt en Martin Ras, Lourens van den Heever en Jan Kruger sit op die roller. Francois Dirker, Andre v Heerden en Martin vd Westhuizen voltooi die span.

Meer as 'n jaar gelede het die Orania Dorpsraad se Ingenieursafdeling 'n opname in die gemeenskap gemaak waar die opsies vir teerpaaie gelys was. Daar is tellings van voertuie wat die verskillende paaie gebruik gemaak om uiteindelik by die resultaat uit te kom. Meeste huidige gebruik + Meeste toekomstige gebruik + Uitdagings met sigbaarheid as gevolg van stof en die fel oggendson = SERVITUUTPAD word geteer! Daar is begin deur die pad se vlakke te bepaal nadat die kennisgewing aan die gemeenskap op 4 Augustus uitgestuur is. Op Maandag 12 Augustus het die bedrywighede in alle erns begin. Die welkome reën het egter die tydlyn met ten minste 6 weke laat aanskuif. “Die kostes vir die bou van die pad kom uit die grootmaatdienstefonds aangesien al die erfeienaars bydraes gemaak het,” dui André van Heerden, hoof van Ingenieursdienste aan. Hy noem dat die toename in die aantal besighede op daardie pad bydra tot die gereelde gebruik. Die toename in gebruik van die toegang tot die Bo-Karoo Opleidingsentrum (BKO) en die CVO-skool vanaf die servituutpad skep 'n veiligheidsrisiko. “Die pad het baie onveilig geraak met die toename in stof en die ongemaklike oppervlakte van die pad wat al te veel geskraap moes word. Die klagtes van voertuie wat uitmekaar skud en bykomende faktore van onderhoud het bygedra tot die besluit,” vertel André. Francois Dirker, Projekbestuurder en Hoof van paaie vertel dat oproepe oor bandskade as gevolg van die groot klippe wat begin uitsteek het tot meer kopsere gelei. Vir hom, wat al as seunjie saam met sy pa betonwerk en die bou van paaie beleef het, is die vasstel van vlakke die grootste uitdaging. Die klipformasies op die pad veroorsaak dat uitgrawings bemoeilik word. Die feit dat die bestaande pad en hele paar ingange na besighede ingedagte gehou moes word, het die vasstel van die nuwe pad se vlakke, ter wille van reën en veiligheid, tyd gevat. André en Francois lig die belangrikheid van die korrekte vlakke uit wanneer hulle noem: “Vlakke bring balans. Die pad moet laer wees as die parkeerareas van besighede. Ons moes op sekere plekke opvul, want die pad moet 'n dwarsval hê sodat reënwater aan die kant van die pad afgevoer kan word. Dit bly maar heeltyd 'n balanseertoertjie.” “Die ompaaie wat tans gebruik word bring baie stof mee en die manne wat daar werk se oë en asemhaling word daardeur belemmer,” vertel Francois. Hy was ook betrokke by die bou van die fondasie vir die Orasolbattery. “Ons kon seker vir die Departement van Paaie wag of die nood vir 'n beter pad motiveer, maar aangesien dit 'n lae-orde pad, en nie prioriteit is nie, maak dit sin om dit self te doen,” sê André. Volgens hulle het die pad nie eers 'n nommer as jy op 'n kaart daarvoor soek nie. Die plan is tans om teen einde Oktober die pad volledig tot in die middel van Wilco te bou sodat voertuie die pad sal kan gebruik. Die voltooide gedeelte se rantstene sal dan ook gelê word. Gedurende November sal voorbereidings getref word om die verdere gedeelte tot by die R369 te voltooi. Die klein span ywerige werkers voorsien dat Desember se toename in verkeer van daardie pad hulle nie prakties sal toelaat om daar te bou nie. Die skatting is om vroeg in Januarie weg te spring en teen die einde Maart 2026 te voltooi. André noem dat die leeftyd van 'n teerpad ongeveer 20 jaar is, indien die pad elke 5 jaar met 'n seëllaag bedek word. Die onderhoud op 'n teerpad is makliker omdat 'n slaggat of skade herstelbaar is.

Kostes van die servituutpad

Kostes van die servituutpad · Begroting: R4.2 miljoen · Lae materiaal: 100 kubieke meter grond (G5 en G1) word per laag gebruik. Materiaalkoste: R2.4 miljoen (rantstene uitgesluit)

Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar