
Gawie Snyman, die Uitvoerende Hoof van die Orania Dorpsraad, het onlangs ’n hartlike mosie van dank uitgespreek teenoor die direkteure van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) en die bestuur van die Stadsboufonds. Hierdie gebaar van waardering volg op die suksesvolle samewerking wat weereens bewys het wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap doelgerig saamstaan. Vir Snyman is die teer van die belangrike servituutpad nie bloot ’n finansiële transaksie of ’n stuk siviele ingenieurswerk nie, maar ’n kragtige belegging in volhoubare Afrikaner-selfbeskikking. Hierdie pad dra die meeste verkeer in Orania en die opgradering daarvan bied onmiddellike voordele aan instellings soos die Orania CVO-skool en Bo-Karoo Opleiding (BKO), aangesien dit veiliger en meer waardige infrastruktuur vir ouers en studente verseker. Die Stadsboufonds het homself deur die jare as ’n onmisbare bougenoot in Orania se verhaal bewys. Benewens die huidige padprojek, het die fonds reeds betekenisvolle bydraes gemaak, insluitend R600 000 vir die verbetering van die gemeenskapsaal en R1 miljoen vir die uitrol van optiese vesel. Hierdie vennootskap versterk die pad na groeiende selfbeskikking, waar elke nuwe netwerk of verbeterde saal bydra tot die breër ontwikkeling van die gemeenskap. Wat die servituutpad betref, is die volle R1,7 miljoen van die Stadsboufonds aangewend om die projek te voltooi. Hoewel die aanvanklike raming vir die pad R4,2 miljoen was, dui die jongste projeksies daarop dat die totale koste nader aan R3,7 miljoen sal wees, wat van wyse hulpbronbestuur getuig. Wat die finansiële volhoubaarheid van die dorp betref, bly Snyman optimisties ten spyte van globale ekonomiese druk. Hoewel Orania se vyf-jaar gemiddelde groei van tussen 10% en 15% per jaar onlangs na 5% gekrimp het, beklemtoon hy dat hierdie simptome van globale ekonomiese uitdagings is, wat ook ‘n beduidende invloed op ander dorpe en stede in Suid-Afrika het. Die ekonomiese druk het beteken dat ons mense na meer stedelike ekonomieë verhuis het. Sou Orania voortgesette lae bevolkingsgroei toon, wat die dorp se historiese eksponensiële groei uitwis, kan ekonomiese druk toeneem.
Die 2026-begroting is daarom konserwatief opgestel en is tans stewig op skedule. Inwoners vra dikwels hoekom daar nie meer gedoen word om industrieë te lok nie, waarom mense wegtrek, of of daar nog na ’n volkstaat gewerk word. Vir Snyman lê die antwoord in die skepping van ’n omgewing waar die gemoderniseerde, stedelike Afrikaner kan vestig; Orania moet net bly doen wat ons reeds doen en elke geleentheid maksimaal benut. Hy erken dat die eiendomsmark in 2025 afgekoel het, maar vroeë aanduidings is dat eiendoms-verhandelinge reeds aan die toeneem is. Hy glo dat die Dorpsraad se verlaging van oordragskoste toetrede tot die eiendomsmark in Orania vergemaklik, terwyl dit steeds ’n stabiele inkomste bied wat ‘n positiewe invloed op die Dorpsraad se kontantvloei het. Snyman erken dat die somme dikwels wysheid en geloof verg, veral omdat Orania self vir grootmaatdienste soos onder andere die onlangse waternetwerk opgraderings, of verhoogde Eskom-aansluitings moet betaal sonder hulp uit die staatskas. Ten spyte van kritiek oor die persepsie van hoë heffings, verduidelik hy dat Orania mededingend opereer sonder die tesouriefondse waaroor dorpe soos Oudtshoorn beskik. Die visie bly om die belastingbasis deur verkope te vergroot eerder as om heffings te verhoog. Wanneer daar ’n leemte ontstaan, vra hy dat die gemeenskap reageer met die gesindheid: “Wat kan ons doen om dit te vul?” Hierdie vennootskap tussen instellings moet voortgesit word tot eer van God, tot voordeel van die mense en ter wille van die voortbestaan van die Afrikaner.




