
Op 5 Februarie 2024 het sy tussen Cumming en Alpharetta, in die staat Georgia in die VSA begin werk terwyl sy haar ondervindingsveld geweldig uitbrei. Rilene van Staden is ‘n Oraniër, maar het haar tuiste vir ten minste een jaar vir die VSA verruil om as au-pair werksaam te wees. Sy bly saam met ‘n gesin in hul kelder, maar daar het sy ‘n eie slaapkamer, sitkamer, kombuis en badkamer. “Dit is eintlik ‘n klein woonstel onder hulle huis,” verduidelik Rilene. Die gesin by wie sy werk bestaan uit die ouers, ‘n drie maande oue tweeling en twee peuters van 1 en 2 jaar oud. Daar is nou vyf vroue en twee manne in die huishouding, Rilene ingesluit. Rilene vertel dat sy saam met die gesin eet en hoef dus nie vir kos te betaal nie. Sy verdien ‘n weeklikse fooi omdat sy ‘n skedule moet handhaaf waartydens sy vir 45 ure van die week na die kinders omsien. Sy vertel dat die kultuur daar baie van die Afrikaner se kultuur verskil. “Die kinders hier ken nie asseblief en dankie nie. Hulle skree op hulle ouers en slaan hulle end it is nogal moeilik om dit te aanskou as jy uit ‘n huis kom waar die opvoeding 100% die teenoorgestelde was. “My pa sou lankal my agterent aan die brand geslaan het as ek helfte van die goed doen wat dié kinders doen en sê,” sê Rilene. Haar verantwoordelikhede sluit in om vir die kinders ontbyt, middagetes en aandetes te maak. Doekeruil is natuurlik deel van hierdie kleingoed se roetine. Sy pak die skottelgoedwasser in en uit, ruim die huis op, pak speelgoed weg en stofsuig die vloere daagliks. Die grootste aanpassing tot dusver vir haar was om nie oom of tannie te sê nie, en om te aanvaar dat jy nie ongeskik is as jy mense op hulle name noem nie. Sy het ‘n voertuig tot haar beskikking en kan die omgewing ontdek wanneer sy nie werk nie. “Ek geniet dit die meeste om nuwe plekke te sien, en nuwe dinge te doen. Alles in die lewe het maar hulle uitdagings en mens gaan nie net altyd ‘n lekker lewe hê nie, maar dit is vir my ongelooflik lekker om baie nuwe mense te ontmoet,” vertel die 22jarige dame. Na afloop van die jaar kan Rilene besluit of sy haar kontrak met 3, 6 of 9 maande wil verleng. Tans sien sy net uit na die dertig dae wat sy, na die jaar, sal kan toer voordat sy besluit wat om daarna aan te pak. “Die wêreld is so groot, en dis lekker om daardie prentjie of idee wat jy van die wêreld het, te kan vervang met ware herinneringe.”




