
Die naweek van 8 Maart 2026 het die politieke landskap van die Karoo ’n vars perspektief gekry toe Renaldo Gouws, bekende politieke stem en VF+lid, sy indrukke van Orania gedeel het. Vir Gouws was hierdie besoek nie net ’n uitstappie nie, maar ’n bevestiging van ’n diepgaande politieke oortuiging: dat ’n gemeenskap kan floreer sonder om aan die hand van die sentrale regering te hang.
’n Gemeenskap wat self doen Gouws beskryf Orania as die skoonste, veiligste en vriendelikste plek in Suid-Afrika. Vir hom was die mees treffende oomblik die gesig van twee kinders wat onbesorg op hul fietse ry, sonder die konstante toesig van bekommerde ouers. "Dit laat jou dadelik besef hulle voel veilig," sê hy. Sy grootste les uit die besoek? Selfbeskikking. Hy glo dat wanneer mense in dieselfde rigting kyk en ’n gedeelde visie het, die staat se inmenging oorbodig word. Hy trek ’n skerp vergelyking met die Ngonyama Trust en die Zulu-koninkryk – wat selde gekritiseer word – en vra waarom ’n klein dorpie in die middel van die land dan soveel teenkanting uitlok?
Die stryd teen die narratief Gouws, wat reeds in 2008 sy stem op sosiale media begin dikmaak het, is nie vreemd vir konflik nie. Met ’n meestersgraad in Industriële Sielkunde en jare se ondervinding as ’n opponerende stem, erken hy dat die hoofstroommedia dikwels ’n vyandige narratief skep. Tog bly hy onwrikbaar. "Ek vertrou dat God my sal beskerm, en as dit my tyd is, is dit my tyd," sê hy oor die risiko's van sy politieke loopbaan. Hy beklemtoon dat hy alles in sy vermoë doen om sy gesin te beskerm, maar weier om deur vrees regeer te word. Hierdie ingesteldheid strek ook na sy siening oor veiligheid in die gemeenskap. Hy glo dat misdaad, soos verkragting en moord streng hanteer moet word, dat die doodstraf selfs vir ernstige misdade heringestel moet word. Vir hom is regverdigheid en beskerming van inwoners fundamenteel vir ’n dorp soos Orania, en dit vorm deel van die wyse waarop die gemeenskap vorentoe gebou kan word.
’n Nuwe kurrikulum vir die jeug As dit by die jonger generasie kom, is Gouws passievol oor identiteit. Hy kritiseer die huidige skoolkurrikulum wat, volgens hom, die Afrikaner dikwels slegs in ’n negatiewe lig stel. Hy herinner die jeug aan prestasies soos hartoorplantings, Eskom en Denel as produkte van Afrikanervindingrykheid. Vir Orania om te oorleef, glo hy die dorp moet sy eie storie vertel en instansies bou wat die jeug daar sal hou deur modernisering, vermaak en toerisme. As voormalige DA-parlementslid het Gouws ook sterk standpunte oor die skoolkurrikulum ingeneem.
Politieke koers: Konserwatiewe waardes As VF+-verteenwoordiger is sy boodskap duidelik: Suid-Afrika se redding lê in die terugkeer na Christelike waardes en beginsels. Hy verwerp liberalisme en kommunisme as mislukte eksperimente en moedig Afrikaners aan om onbeskaamd trots op hul herkoms te wees.
Toerisme
Sy fokus op veiligheid en gemeenskapswaardes maak dat Orania kan floreer en besoekers kan aantrek, terwyl moderne instansies en vermaak die jeug betrek en die dorp se unieke identiteit eerder versterk. Hy vertel dat hy en 3 reisgenote meer as R6 000-00 in die dorp spandeer het. Met winkels wat Saterdag langer ure beskikbaar was en selfs Sondae oop was sou hul meer kon spandeer. “Die dorp is te groot om te dink dat ‘n Saterdag genoeg is om alles te ontdek. Die tye beperk ‘n lewendige toerismemark,” deel hy.
Hy vertel dat die kaart van Orania wat aan hul oorhandig is verouderd is en dat daar nie ‘n lys of boekie met inligting oor besienswaardighede beskikbaar was nie. Gouws se visie vir Orania is een van groei – waar winkels oor naweke langer oopbly, ’n groot bus toeriste van plek tot plek rondry, en die "Departement van Fopnuus" getakel word deur proaktiewe skakelwerk buite die grense van die dorp. Hy verlaat die dorp met ’n finale boodskap aan die inwoners: "Wees trots op wat julle het. Ek is jaloers op hierdie skoon, netjiese, vriendelike dorp wat veiligheid bied."




