← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Regruk verwelkom die lente

Op Vrydag 29 Augustus het daar weer 'n groot groepering van die gemeenskap, met swart sakke gepantser, vroegoggend by die dorpskantoor byeen gekom.

Regruk verwelkom die lente – foto 1

Op Vrydag 29 Augustus het daar weer 'n groot groepering van die gemeenskap, met swart sakke gepantser, vroegoggend by die dorpskantoor byeen gekom. Dié inisiatief van die Orania Dorpsraad, om die aanbreek van lente te vier, word ondersteun deur die omgewing skoon te maak en op verskeie maniere reg te ruk. Ander instellings het onlangs begin inspring en hul hulp aangebied om die Lenteregruk met selfs meer impak uit te voer. Arno Lambrechts, Hoof van Gemeenskapsdienste, neem die leiding met die projek en sê: “Die boodskap wat deur 'n breër gemeenskap se deelname uitgedra word is dat die netheid van ons omgewing nie net die dorpsraad se verantwoordelikheid is nie, maar dat elkeen van ons op persoonlike vlak die handhaaf van 'n netjiese omgewing as 'n leefwyse en noodsaaklikheid erken.” Daar word deur individue of groepe deur die strate en meer beboste gebiede beweeg waar plastieksakke, blikke, stompies en ander rommel opgetel word. Arno voel dat die selfwerksaamheid van inwoners hierdeur beklemtoon word en dat 'n ingesteldheid van 'n skoon, netjiese omgewing vir ons 'n saak van erns is. Koerania het met verskeie lede van die gemeenskap en personeel van instellings gesels wat hulself bereid verklaar het om met die projek behulpsaam te wees. Die algemene terugvoer is dat dit 'n voorreg is om as 'n span betrokke te raak by iets wat vir almal belangrik is, en dat die uitvoer van sulke take die beeld van ons dorp by besoekers verhoog. Sommige instellings het die geleentheid aangegryp om hul eie tuine, kantore of werkruimtes skoon te maak. Die Orania Dorpsraad sal graag wil sien dat die Lenteregruk aanhou groei en uiteindelik die hele gemeenskap van Orania betrek. Hul spreek hul dankbaarheid uit teenoor almal wat hul hulp op onbaatsugtige wyse gelewer het. “Ons sien julle volgende jaar weer!”

Regruk verwelkom die lente – foto 2
Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar