← Nuus

· Deur Dia van Staden en Sean Volschenk

Regering wil Bokkies stuit

Min sportbyeenkomste in Suid-Afrika het in so ’n kort tyd soveel politieke emosie ontlok soos Bokkieweek.

Loutjie Steyn, voorsitter van die Opvoedingsraad van die Orania CVO-skool.
Loutjie Steyn, voorsitter van die Opvoedingsraad van die Orania CVO-skool.

Min sportbyeenkomste in Suid-Afrika het in so ’n kort tyd soveel politieke emosie ontlok soos Bokkieweek. Wat vir duisende Afrikanerfamilies ’n jaarlikse hoogtepunt van sport, kultuur en gemeenskap is, het skielik die middelpunt van ’n nasionale debat geword oor identiteit, geskiedenis en die betekenis van vryheid in ’n diverse samelewing. Die vraag wat nou op die tafel lê, is nie bloot oor rugby, hokkie of netbal nie. Dit gaan oor ’n groter vraag: Het kulturele gemeenskappe in ’n demokratiese Suid-Afrika die reg om binne hul eie geledere byeen te kom en hul taal, tradisies en identiteit te vier? Bokkieweek, wat deur Afrikaner Volkseie Sport aangebied word, bestaan reeds 35 jaar. Die toernooi bring jaarliks duisende jong sportlui, ouers, afrigters en ondersteuners bymekaar. Vir deelnemers is dit meer as net kompetisie. Dit is ’n ruimte waar kinders sport op hoë vlak kan beoefen, nuwe vriendskappe vorm en deel voel van ’n groter kulturele gemeenskap. Ondersteuners wys daarop dat die toernooi geen staatsbefondsing ontvang nie en in die burgerlike sfeer funksioneer, dieselfde ruimte waar kerke, kultuurverenigings, gemeenskapsorganisasies en talle ander vrywillige instellings bestaan. Volgens hierdie siening beteken kulturele selforganisering nie noodwendig uitsluiting of vyandigheid nie. Die feit dat ’n groep mense iets binne hul eie taal en tradisie organiseer, beteken nie outomaties dat hulle ander mense minderwaardig ag nie. Loutjie Steyn, voorsitter van die Opvoedingsraad van die Orania CVO-skool, beklemtoon hierdie standpunt en sê: "Bokkieweek is ‘n leefwyse. Volgens hierdie siening beteken kulturele selforganisering nie noodwendig uitsluiting of vyandigheid nie. Die feit dat ’n groep mense iets binne hul eie taal en tradisie organiseer, beteken nie outomaties dat hulle ander mense minderwaardig ag nie. Loutjie Steyn sê: "Bokkieweek is ‘n sportgeleentheid waar Afrikaners binne ons kultuurgemeenskap sport op ‘n professionele vlak kan beoefen. Afrikaners het ook die reg soos alle volke in SA om vrylik te assosieer. Die Grondwet verskans dit ook vir die Afrikaner. Ons is nie teen iemand wanneer ons onsself handhaaf nie." Vir sy gemeenskap en skool het deelname ook 'n baie praktiese waarde. Steyn verduidelik verder: "Vir ons as Orania CVO-skool wat ‘n BCVO-lidskool is, is dit ook belangrik om verder aan sport te kan deelneem as ‘n geaffilieerde Unie by Bokkieweek. Dit gee vir CVO-kinders verdere blootstelling. Niks wat ons binne kultuurverband doen is rassime nie. Ons leef onsself by Bokkieweek uit net soos in Orania binne ons eie kultuur." Orania CVO-ouers Nicolette en Jannie Ebersohn stem saam en getuig: "Dit is ’n gesonde, mededingende terrein sonder kwotabeheer waar nuwe bande gevorm word binne ’n beskermende Afrikaner-atmosfeer. Wat ’n voorreg!" Teenstanders van Bokkieweek voer egter aan dat ’n toernooi wat spesifiek vir Afrikanerkinders bedoel is, herinneringe aan die apartheidsverlede oproep. Vir baie Suid-Afrikaners is taal en ras histories verweef, en enige vorm van afsonderlike organisering word daarom met groot agterdog bejeën. Kritici reageer dikwels ook skerp op die tradisionele liedere wat tydens die geleentheid gesing word. Steyn verdedig egter hierdie kulturele uitdrukkings en verklaar: "Die Lied van jong SA is nie ‘n Apartheidslied nie. Dis ‘n lied wat ‘n volk se ontwaking en groei besing en vra nie dat enige volk of persoon doodgemaak word soos 'kill the boer' nie. Afrikaners was deur die eeue bouers en dit het nie en sal nie verander nie, want ons het ‘n Godgegewe roeping." Regeringslui stem egter hoegenaamd nie saam nie. Gautengse Premier Panyaza Lesufi het die toernooi veroordeel as ’n "rassistiese poging" en "’n bespotting van ons demokrasie" nadat kinders die lied gesing het. Sportminister Gayton McKenzie het heftig saamgestem en dit bestempel as "reine nonsens" van "apartheidsnostalgici" wat die regering nie sal toelaat nie. Hierdie konfrontasie tussen gemeenskap en staat laat die rooi ligte voor baie ontleders flikker. Izak du Plessis van Nuuspod waarsku dat die staat sy mag oorskry wanneer hy hom hiermee bemoei: "Wanneer politici, of dit nou 'n minister of 'n premier is, dreig om 'n private kulturele byeenkoms soos die Bokkieweek te stop, flits die rooi ligte. Dit is 'n teken dat die staat sy mag misbruik om sosiale ingenieurswese toe te pas in plaas daarvan om regte te beskerm." Du Plessis wys daarop dat ware vryheid beteken dat groepe die reg het om hul eie dinge te doen sonder konstante regeringsinmenging, en voeg by: "Die kuns is om die reg kleurblind te hou waar dit saak maak by howe, skole en werk, maar om ruimte te laat vir kleur daar waar mense werklik asemhaal." Volgens hom is 'n eie kulturele ruimte juis noodsaaklik vir die voortbestaan van 'n gemeenskap, en hy verduidelik: "In enige samelewing is kultuur nie maar net 'n luukse bykomstigheid nie. Dit is die hartklop van hoe mense werklik leef, die gewoontes wat ons by ons ouers oorneem, die stories wat ons oor en oor vertel, die rituele wat ons koester, en die liedjies wat ons sing. Kultuur is die manier waarop 'n groep die harde werklikheid van die lewe omskep in iets waar jy tuis voel." Hierdie spanning wys op een van die moeilikste uitdagings van Suid-Afrika se demokrasie: hoe versoen ’n mens ’n gedeelde nasionale identiteit met die werklikheid dat mense ook sterk kulturele identiteite het? Kultuur bestaan immers nie net uit kos, musiek en feeste nie. Dit bestaan ook uit taal, geskiedenis, waardes en gemeenskappe waarin mense behoort. Geen kultuur overleef sonder ruimtes waar dit oorgedra word nie. Die vraag is dus nie of mense kulturele ruimtes sal hê nie... hulle het dit reeds. Die vraag is of daardie ruimtes vreedsaam toegelaat sal word om te bestaan. Die Grondwet beskerm nie net individuele regte nie, maar erken ook die reg van gemeenskappe om hul kultuur, taal en assosiasies te bevorder. Artikel 235 maak voorsiening vir die erkenning van die selfbeskikking van kulturele gemeenskappe, mits dit nie teen ander se regte indruis nie. Die kernvraag behoort dus nie te wees: “Is Bokkieweek Afrikaner?” nie. Dit is duidelik dat dit is. Die belangriker vraag is: “Wat gebeur binne daardie ruimte?” Leer dit kinders dat hulle beter as ander mense is? Of leer dit hulle om hul taal, geskiedenis en kultuur te waardeer? Bevorder dit haat en uitsluiting? Of bied dit bloot ’n plek waar ’n minderheidsgemeenskap sy eie identiteit kan uitleef? ’n Demokratiese samelewing behoort beide beginsels te kan handhaaf: gelyke regte vir almal, maar ook ruimte vir gemeenskappe om hul eie identiteit te behou. Die uitdaging vir Suid-Afrika is nie om alle verskille uit te wis nie. Ware eenheid beteken nie dat almal dieselfde moet wees nie. Dit beteken dat verskillende mense en kulture langs mekaar kan bestaan sonder dat identiteit self as ’n bedreiging gesien word. Bokkieweek het dus groter geword as ’n sporttoernooi. Dit het ’n toets geword vir die vraag of Suid-Afrika se beroemde “eenheid in diversiteit” werklik diversiteit insluit- ook wanneer daardie identiteit ongemaklik of omstrede is.

Voorblad van Koerania - Julie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar