← Sake

· Deur Koerania-redaksie

Professionele verhoudings – Julie 2026

Hoe sou jy verhoudings tussen bestuur en personeel in ‘n besigheid aanspreek en versterk?

Petrus Jacobs
Petrus Jacobs

Hoe sou jy verhoudings tussen bestuur en personeel in ‘n besigheid aanspreek en versterk?

Hugo Grotius

Verhoudings gebaseer op enige iets anders as vertroue, is bestem om te vaal en hierdie vertroue word met tyd gekweek. Dit kan ook in 'n oogwink gebreek word. Om verhoudings tussen bestuur en personeel te verbeter moet partye oor 'n wedersydse vertrouensverhouding beskik wat deur bestuur inisieer moet word en dan deur beide partye gebou en bewaar moet word. Deursigtige kommunikasie, erkenning van foute of swak besluite, en aanvaarding van verantwoordelikheid is van die beste maniere waarop bestuur en personeel mekaar kan begin vertrou.

Mariza J van Vueren

Dit is so dat bestuur baie gereeld nie die personeel se kwaliteite erken nie. Bestuur moet openlik en eerlik met werknemers kommunikeer en na hul idees en bekommernisse luister. Personeel moet op hul beurt respek toon, verantwoordelik optree en saamwerk om die besigheid se doelwitte te bereik. Gereelde vergaderings, erkenning vir goeie werk en billike behandeling help om vertroue te bou. Wanneer daar wedersydse respek, goeie kommunikasie en samewerking is, verbeter produktiwiteit en word die werksomgewing meer positief en aangenaam vir almal.

Samantha Buys

'n Gesonde verhouding tussen bestuur en personeel vorm die ruggraat van enige suksesvolle besigheid. Dit begin by bestuur wat met wysheid optree en self die voorbeeld stel, eerder as om net opdragte te gee. Wanneer foute gemaak word, moet dit met begrip aangespreek word, en die regte weg deur voorbeeld gewys word. Gereelde gesprekke, waar personeel se stem werklik gehoor word, skep vertroue en verhoed misverstande. Verantwoordelikheid moet stelselmatig oorgedra word soos personeel gereed is daarvoor. Wanneer bestuur toeganklik, eerlik en waarderend is, voel personeel gemotiveerd en betrokke — wat lei tot beter samewerking en resultate.

Sanri Stone

Kwaliteit verhoudings tussen bestuur en personeel kan die sukses van ‘n besigheid bepaal. Ek sal dit aanspreek en versterk deur oop en eerlike kommunikasie aan te moedig, sodat almal gehoor en gerespekteer voel. Bestuur moet gereeld na personeel se bekommernisse luister en saam oplossings vind. Ek sal ook spanwerk, wedersydse respek en erkenning vir harde werk bevorder. Personeel moet ook bereid wees om saam te werk en verantwoordelikheid te neem. Wanneer werknemers waardeer voel en bestuur regverdig optree, verbeter vertroue, produktiwiteit en die algemene werksomgewing. Dit lei Sanri Stone uiteindelik tot beter samewerking en groter sukses vir die besigheid.

Pierre Buys

Die verhouding tussen bestuur en personeel is van groot belang vir enige besigheid. Dit word versterk deur met wysheid en insig te lei, en self voor te loop as 'n voorbeeld. Foute moet uitgewys word, maar altyd met 'n voorbeeld reggestel word — nie net bestraf nie. Gereelde, eerlike kommunikasie is noodsaaklik: Bestuur moet toeganklik wees en personeel se insette werklik aanhoor. Gee genoeg tyd en aandag aan gesprekke en beplanning, en dra verantwoordelikheid oor op die regte tyd. Erkenning vir goeie werk en deursigtigheid oor besluite bou vertroue, moraal en produktiwiteit oor tyd.

Petrus Jacobs – Besigheidsmentor

In enige besigheid is ons kontak met mense nooit net neutraal nie; elke interaksie bou óf breek ‘n verhouding. Die groet in die gang, die gesindheid van 'n e-pos en of jy opkyk wanneer iemand praat: elke oomblik tel. Baie leiers wag vir die groot oomblikke om hul waardering te wys, maar verhoudings word in die klein, gewone oomblikke gevorm. Vra jouself gedurig af: het hierdie oomblik vertroue gebou of afgebreek? Ons bou verhoudings met klein dade van omgee, 'n kyk wat sê "ek sien jou". Nie groot nie, net eg… en konsekwent. Dít bou spanne wat hou.

Mariza J van Vueren
Mariza J van Vueren
Samantha Buys
Samantha Buys
Sanri Stone
Sanri Stone
Hugo Grotius
Hugo Grotius
Pierre Buys
Pierre Buys
Voorblad van Koerania - Julie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar