← Sport

· Deur Dia van Staden

Prestasies by 35ste Bokkieweek

Verskeie kinders van Orania het van 6 tot 10 Julie aan die gesogte Bokkieweektoernooi, wat deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS) aangebied is, deelgeneem.

Prestasies by 35ste Bokkieweek – foto 1

Verskeie kinders van Orania het van 6 tot 10 Julie aan die gesogte Bokkieweektoernooi, wat deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS) aangebied is, deelgeneem. Vanjaar se toernooi het sowat 2 600 Afrikanerkinders, 600 beamptes en duisende geesdriftige ondersteuners na die sportvelde gelok vir strawwe dog opwindende kompetisie in rugby, netbal en hokkie. Orania CVO-skool, as trotse lid van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), het 'n stewige bydrae gelewer met 24 spelers wat vanuit die skool vir die BCVO-spanne gekies is. Hierbenewens het vier Oraniërs in die Griekwasspanne uitgedraf, van wie twee leerlinge aan Volkskool Orania is. Een van die groot hoogtepunte was die opname van Orania se eie Drikus Truter in die gesogte Gazelle-span. Vir ouers wat die toernooi bygewoon het, is die waarde van hierdie week onskatbaar. Nicolette en Jannie Ebersohn, wat al 'n pad van sowat tien jaar met Bokkieweek stap, het vanjaar hul seun se laaste toernooi in Naboomspruit bygewoon, terwyl hul dogter as hokkie-afrigter betrokke was. "Dit bly 'n absolute fees," vertel Nicolette.

"Die sportterrein was uitstekend ingerig, die atmosfeer veilig en die mense aangenaam.” Oraniërs se lojale deelname aan hierdie toernooie beklemtoon die gemeenskap se passie vir onafhanklike Afrikanerinstellings. Alhoewel daar gereeld omstrede berigte in die hoofstroommedia verskyn, bly die fokus op die opbou en handhawing van die eie gemeenskap. Loutjie Steyn, voorsitter van die Opvoedkundige Raad van Orania CVO-skool, beklemtoon dat Bokkieweek die ideale platform bied vir professionele sportbeoefening binne 'n eie kultuurgemeenskap. "Vir ons as CVO-skool is dit belangrik om as 'n geaffilieerde unie by Bokkieweek in te skakel, want dit bied vir ons kinders waardevolle verdere blootstelling." Orania CVO-skool se Zincke Straszacker is as beste middelveldspeler vir netbal gekies en Corné de la Guerre as beste rugby agterspeler. Koerania wens al die jong sportsterre geluk met hul uitsonderlike prestasies en deelname. Die sukses van die toernooi getuig van 'n blink toekoms vir die vrye Afrikanerjeug.

Volkskool Orania is trots op twee van sy leerders, Gregory Eloff en Anna Boshoff, wat deelgeneem het aan die AVS Griekwas Bokkietoernooi. Gregory as lid van die Griekwas O/16-rugbyspan en Anna het die Griekwas O/19-hokkiespan verteenwoordig. Foto’s: Verskaf

Prestasies by 35ste Bokkieweek – foto 4
Gregory Eloff
Gregory Eloff
Anna Boshoff
Anna Boshoff
Voorblad van Koerania - Julie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar