
Osbraai op Kromdraai, almal is daar Van heinde en verre kom almal saam... Die vure die knetter, die kinders ringkink... Die son trek al water, die skemer is hier En almal tevrede om ʼn braaivleisvuur Hierdie liedjie van Francois Hayes het is my gedagtes bly dwarrel met die aankoms by die Plaasbraai, hierdie keer nie op Kromdraai nie maar wel op ons eie osbraai van Orania . Almal van oud tot jonk was in ʼn ligte luim met die heerlike saamkuier met familie en vriende op een van die laaste lekker herfsdae, ja meer as 800 mense! OVD in samewerking met die Rocket helikopter het ʼn indrukwekkende vertoning gelewer van hoe gerat hulle is om in noodsituasies, waar elke minuut van belang is, die nodige diens en ondersteuning te kan bied aan Oraniërs . Ons is dankbaar en trots hierop. Die jongspan het met verwondering gestaan en kyk na die vlieënier wat met soveel kundigheid die helikopter presies op die regte plek kon land. Vermaak is vir oud en jonk aangebied met goeie agtergrondmusiek wat bygedra het tot die feestelike atmosfeer. Die trekker met sy waentjies het gesorg vir prettige ritte vir die jongspan, daar was selfs die jonges van gees wat ook gedeel het in hierdie pret en saamgery het. Ouers, oumas en oupas het nie geweet van die kinders nie want hulle kon vry en veilig orals rondhardloop en speel. Soos gewoonlik het die hele dorp na die kinders omgesien. Met sonsak is ons verras met die kunstige snywerk in die vuurdromme. Dit het bygedra om die nodige hitte met styl te verskaf. Die dorpraad se manne het knap gesorg dat die vure heeltyd hoog brand met hout wat aangery is. As die koue te erg byt kon almal eers bietjie om die vuur verligting kry. Die hoogtepunt was natuurlik die ete. Wat ʼn heerlike ervaring. Komplimente aan al die braaiers wat hulle baie goed van hulle taak gekwyt het, daar was niemand wat nie selfs twee of drie keer kon gaan skep nie. Dit kos goeie organisasie en beplanning om so groot groep mense so gou te laat opskep. Binne bykans veertig minute is die hele skare gevoed deur die vele opskeppunte wat goed beman was.
Ons eerste osbraai was ʼn belewenis. Aan al die organiseerders en Oraniërs wat die moontlik gemaak het: van harte geluk – ons sien al uit na Plaasbraai 2026!









