
Die Twin Trees Restaurant in Grootbrak het vir groot pret gesorg toe daar vir paartjies 'n sessie aangebied is waarin hulle hul unieke persoonlikhede kon ontdek. Contessa Kruger en Dia van Staden, albei onderlê in kundigheid van persoonlikheidstipes en breinprofiele, het 'n heerlike kuieraand rondom keurwyne aangebied. Laurette Swanepoel, eienaar van Twin Trees Restaurant, wat ook 'n wynkelder insluit, het die smaakkliere laat wikkel met die uitlê van verskillende geure wat by die onderskeie persoonlikhede pas. Die drie aanbieders het die gehoor se terugvoer oor hulle belewenis van mekaar se persoonlikhede terdeë geniet. Dit is duidelik genoem dat daar potensiële dominansie in 'n kwadrant van persoonlikheidstipes kan wees, maar dat elke unieke individu ander eienskappe sal insluit. Jeanette Peenz, 'n Orania aandeelhouer wat tans in Grootbrak woon, het saam kom kuier en daar is kwaliteit inligting oor Orania met die gaste gedeel. Laurette vertel: “Dit was nou so lekker dat ek dink ons moet sommer gou weer aan 'n aanbieding werk wat die winter sal verdryf.” Contessa se aanbieding het elke persoon in die gemaklike sitkamer, waar 'n oondjie vir warmte gesorg het, aan die gesels gehad. Dia het oor die 3 breine gesels en keuses wat 'n mens maak daarmee belyn. Daar is tot laataand geklets en gekuier terwyl die smaaklike pizzas en wyn tot 'n heerlike atmosfeer bygedra het. Nooi ons gerus na jou dorp toe om daar te kom help om persoonlikhede te ontsluit, kommunikasie te verbeter (by die huis en in die werkplek), emosionele intelligensie te verhoog of konflik op te los. Daar word uitgesien na opvolgsessies by Twin Trees, en selfs elders in die land, waar nog 'n paar temas met 'n kuier sal saamvloei.






