
Die A-Z Pekankonferensie is op 15 en 16 April vir die derde jaar suksesvol in Orania aangebied. Dié samekoms van boere, verskaffers, kundiges en leergieriges het reeds gevestig as ’n praktiesgefokusde leerplatform vir pekanneutprodusente en plaasbestuurders wat hul boorde meer winsgewend en volhoubaar wil bestuur. Volgens direkteure van die A-Z konferensie, Johan Coetzee en Francois Slabber, is hulle in hul noppies oor vanjaar se bywoning, die kwaliteit van sprekers en die entoesiasme van uitstallers en markkenners. Francois sê: “Die konferensie het ná drie jaar ’n eie, duidelik identifiseerbare styl gevestig. Die gehalte van die sprekers was uitmuntend. Die temas wat behandel is het mekaar goed aangevul en die uitstallers gekomplimenteer. Dit was ’n goed georganiseerde geleentheid, gekenmerk deur heerlike kos en ’n gemoedelike atmosfeer onder die konferensiegangers.” Johan Coetzee lewer kommentaar: “Die hoogtepunt van die konferensie was die samesyn tussen konferensiegangers, uitstallers en sprekers. In ’n gesellige atmosfeer, met heerlike kos en ’n praktiese venue en uitstalruimte vir die bedryf, kon almal die konferensie ten volle geniet.” Verskeie individue wat die konferensie bygewoon het, was ingenome met die sprekers en vlot verloop van die volgepakte program. “Dit is ‘n riem onder die hart wanneer persone wat die konferensie bywoon hul dienste en deelname vir ‘n volgende jaar kom aanbied,” vertel Johan. Volgens die organiseerders is dit ‘n goeie teken dat hul op die regte pad is en ‘n suksesresep beet het. Behalwe vir sprekers soos Emile de Groot, Dawie du Plessis, Herlu Smith en Johann Steenkamp, wat verskeie vrae tydens paneelbesprekings kon beantwoord, het Dr Elmi Lötze, Jean Kuiper en Saniek du Toit hul vroulike stemme by die groep gevoeg. Paul Vogel, uitvoerende hoof van Bo-Karoo Opleiding het inligting gedeel oor die studiekursusse wat by BKO aangebied word en meer vertel van hul groei en toekomsplanne. Daar was goeie belangstelling van die boere aangesien die studente potensiële werkers op hul plase kan word. Die direksie van A-Z sien uit na April 2027 wanneer daar weer kennis en kundigheid gedeel sal word.











