← Kultuur

· Deur Wynvlieg Woltemade

Pannekoekpolitiek en die koeksusterkabinet – Julie 2025

Dis nie in die raadsaal waar die mag lê nie.

Dis nie in die raadsaal waar die mag lê nie. Dis in die meelwolk agter die bazaartafel. Vra maar vir enigeen in Orania: As jy regtig iets wil laat gebeur, moenie net na die vergadering toe gaan nie, meld aan in die pannekoekspan. Dis daar waar Tannie Alida die beslag roer soos 'n generaal. Waar rangorde nie uitgespreek word nie, maar duidelik blyk: wie keer, wie vou, en wie nog net die kaneelsuiker hanteer- versigtig. Die koeksusters lê in rye soos manskappe. Maar agter die glimlagte broei taktiek. Laasjaar het Tannie Lettie haar eie stroop gebruik sonder om eers te vra. Tot vandag toe praat ons van “die stroopskisma.” Lettie is tans nog vermis. En dan daag iemand op met Nutella. 'n Italiaanse bedreiging in 'n protestantse pannekoektempel. Tannie Koekie kyk net een keer, sug liggies, en vou haar pannekoek met só 'n kraak, dit klink soos 'n finale oordeel. Teen die tyd dat die manne nog stry oor die kole, het die Koeksusterkabinet reeds besluit: wie gaan bid, wie tafels dek, en wie nie weer aangestel gaan word om die nuwe industriële gebou te bou nie. Ja, ons praat graag van selfbestuur. Maar elke besluit op die dorp, van kampfees tot stoele, word vooraf goedgekeur, deur 'n raad van tannies met koekrollers in kantkombers-stilte. Ek's Wynvlieg Woltemade. Ek vlieg nie ver nie, net van kaneelsuiker tot besluit, van koekroller tot komplot, en ek hou jou dop.

Voorblad van Koerania - Julie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2025, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar