← Sport

· Deur Koerania-redaksie

Oraniër skitter by Meestersatletiek

Jacobus le Grange (45), lid van die Orania Atletiekklub, het van 1 tot 3 Mei aan die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkampioenskappe in Oudtshoorn deelgeneem.

Jacobus le Grange is hier volstoom besig met sy 400m oorwinning.
Jacobus le Grange is hier volstoom besig met sy 400m oorwinning.

Jacobus le Grange (45), lid van die Orania Atletiekklub, het van 1 tot 3 Mei aan die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkampioenskappe in Oudtshoorn deelgeneem. Dag 2 het sneeu op die Swartberge opgelewer, wat van die De Jager-Sportkompleks af sibaar was. Jacobus het 'n eersteplek in die 400 m (55,33s) naellope in sy ouderdomsgroep (45-49 jaar) behaal, sowel as tweedeplekke in beide die 200 m (25,40s) en 100 m (12,56s) naellope. "Die 400 m was moeilik omdat my kompetisie in die bane aan my binnekant gehardloop het, en ek dus heeltyd voor moes bly en my eie resies hardloop, soos ek voorberei en beplan het.” In die 100 m was hy verras dat hy teen 'n vol groep naellopers 2de kon eindig. Hy vertel dat hy nie gewoonlik so goed met die korter afstande vaar nie, maar sy harde werk deur die seisoen het vrugte afgewerp.

Om die naweek af te sluit het hy in 'n saamgestelde aflosspan saam met 'n Vrystater, 'n Noordwester en 'n Namibiër 3de geeïndig. Sy tye is nie veel stadiger as toe hy op skool was nie, en hy hoop om selfs nog nader daaraan te kom. "Noudat ek ouer is, met meer kennis oor die sport en my liggaam, oefen ek ook slimmer. Die atlete wat die heel beste doen, is dié wat na skool of universiteit nie opgehou het nie. 'n Gesonde gees in 'n gesonde liggaam is rede tot vreugde, en daarvoor dank en eer ek my Skepper.“ Jacobus besef dat meestersatletiek, waaraan die meeste provinsies deelneem, in Pretoria, Kaapstad en op Nasionale vlak baie kompeterend is. Deelname is vanaf 30-jarige ouderdom in 5-jaar kategorieë ingedeel. Atlete kan aan elke atletiekdissipline wat baan- en velditems betref, deelneem. Meer egter as die kompetisie, is die vriendskappe en netwerke wat gebou word, en vreugde vir ander se prestasies.

Voorblad van Koerania - Mei 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2025, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Linda laat die skeie tol
Sport/

Linda laat die skeie tol

Drie spanne is gekies om die Noord-Kaap tydens die meesterstoernooi in Kroonstad vanaf 28 September tot 2 Oktober te verteenwoordig.

Deur KoeraniaLees berig