
Die Orania Verteenwoordigende Raad is elke 5 jaar aangewys deur die gemeenskap. Met die nuwe grondwet word die OVR nou saamgestel deur 8 kandidate (deur die kiesers aangewys) wat die Bugerraad vorm en 2 lede deur elke grondentiteit wat die Gebiedsraad vorm. Vanjaar sal die publiek op 4 November kruisies kan trek om hulle 8 kandidate te kies vir die groot taak. Volgens die Orania Grondwet sal die bestuur verantwoordelikheid opneem om Orania se unieke status in stand te hou en staatkundige ontwikkeling te bevorder.
Wat is die een aspek van die Burgerraad se pligte wat jy primêr sal wil aanspreek? Hoe sal jy dit doen?
Christo Conradie
Een van die aspekte waaraan ek in besonder aandag sal wil gee is die uitbou van internasionale kontakte, netwerke en betrekkinge. Daardeur fokus ek direk op die terrein van die OVR wat politieke en ekonomiese belange prakties moet bevorder. Tweedens is die tyd nou ryp daarvoor, aangesien daar tans belangrike internasionale aandag op die Afrikaner en selfs Orania val, asook op konserwatisme en nasionalisme oor die algemeen. Ek voel dat hierdie venstergeleentheid optimaal benut moet word sodat internasionale bewussyn en ondersteuning Orania se ontwikkeling en groei kan versnel.
Fanus Bekker
Elke stemgeregtigde indiwidu in die groter Orania se besluit het ’n effek op wie op die Burgerraad gaan dien. Die Burgerraad verteenwoordig dus die bevolking. Dit is logies dat die aangewese verteenwoordigers die kollektiewe belange van die bevolking wie hulle verkies het, sal en behoort te dien. Besluitneming kan nooit ‘n ligtelike aangeleentheid vir lede van die Burgerraad wees nie, want dit het ’n invloed op die lewensgang van almal in hierdie geliefde “enklawe” van ons met sy vryheidstrewe. Elke siel wat hierdie stukkie aarde bewoon en bewandel is net so waardevol as die volgende een in God se Koninkryk, en daarom moet dit ook in ons “aardse koninkrykie” dieselfde beslag vind. Ons moet altyd onthou: Ons is min, en ons staan eintlik teen die hele wêreld vry in beginsels. Ons moet daagliks seker maak dat ons die energie tot ons beskikking positief rig in daardie rigting.
Frans De Klerk sr.
Orania se ontwikkelingsmodel berus op groeiende selfbeskikking. Stap vir stap word daar aan vryheid gebou, met elke sukses wat op die vorige een voortbou. Die grootste sukses van die OVR, wat nou sy termyn afsluit, was die aanvaarding van sy nuwe grondwet. Dit het duidelikheid gebring oor die rol van die OVR binne Orania en sy verhouding met Orania se vier grondinstellings. Ingevolge die OVR se grondwet sal ek my gedurende die volgende OVR-termyn vir die hantering van die volgende aangeleenthede beywer: Die suksesvolle inwerkingstelling van die nuwe struktuur en die vestiging van die nodige uitvoerende vermoë van die OVR. Die aanvaarding van ’n nuwe grondgebruikbestuurskema vir die hele Orania, met ’n fokus op landbousonering en die vasstelling van ’n stedelike grens vir Orania. Ondersteuning aan die Orania Regsraad in die neem van die volgende stappe ter versterking van onafhanklike regspraak vir Orania. Eksterne politieke skakeling om goeie verhoudings te bou en Orania se algemene beeld, veral onder nie-Afrikaners, te verbeter.
Werner Pereira
Territoriale onafhanklikheid in nederige afhanklikheid van ons Skepper. Ons staan op die skouers van reuse; die verantwoordelikheid om voort te bou op wat reeds in Orania vermag is, is groot. Met erns, omsigtigheid en voorbidding moet die werk voortgesit word. Elke besluit, vergadering, onderhandeling en handeling moet gemeet word aan: Bring dit ons nader aan die uiteindelike doel van totale onafhanklikheid? Staatsbou met gebalanseerde stedelike en landelike ontwikkeling moet ondersteuning bied aan plaaslike produksie, entrepreneurskap en volkseie kapitaalvorming. Meer bekostigbare landelike vestiging kan getallegroei versnel. Vestiging, gesinsgroei en terugkeer van kundigheid is noodsaaklik vir ’n volhoubare bevolkingsbasis. Die opstel van ’n geïntegreerde plan vir ’n robuuste tegnologiese ruggraat — een wat afstandwerkers, datasentra, moderne ondernemings en belegging kan lok — is ’n natuurlike volgende stap. Só kan ons die middelklas versterk, kapitaal behou en die gemeenskap bestand maak teen eksterne ontwrigting. Strukture behoort te funksioneer asof ons onafhanklik is — lank voordat formele erkenning volg.
Carel Boshoff 5
Ek is Carel 5, ek is my lewe lank al ‘n Oraniër, deur beskikking voor ek verstand gekry het en deur oortuiging daarna. Ek het die nominasie, wat alreeds ‘n voorreg is, aanvaar omdat ek lankal reeds besluit het om my lewe aan Orania te wy. Ek doen dit deur hier te woon, werk, kinders groot te maak en my deel te doen waar ek kan – tans neem dit onder andere die vorm aan van begeleide toere deur die Verwoerdmuseum aanbied. Daar is twee gebiede binne die Burgerraad waartoe ek aangetrokke voel. Die Burgerraad is tans op ‘n kritieke stadium van beleidvorming en skakeling wat toonaangewend vir die toekoms van Orania is. As ‘n jong Oraniër vir wie Orania se toekoms van uiterste belang is, met ‘n aktiewe belangstelling in ons politieke en kulturele geskiedenis en hede, met lewenslange praktiese ervaring binne Orania, wil ek die unieke perspektief van jong Oraniërs verteenwoordig, in die Burgerraad, of waar ek ook al die geleentheid kry.
Riaan Jacobs
Gewortel in ons verlede. Verantwoordelik in die hede. Gerig op die toekoms. Ons geskiedenis en herkoms vorm die wortels van ons identiteit. Ons Christelike geloof, kulturele erfenis en strewe na ’n eie tuisland is nie bloot herinneringe aan die verlede nie, maar ’n lewende verantwoordelikheid in die hede en ’n kosbare erfenis wat ons aan ons nageslagte wil oordra. Ek staan vir ’n konserwatiewe waardestelsel sonder engheid; vir die behoud van dit wat waardevol is, maar ook vir die wysheid en moed om nuwe geleenthede te herken en verantwoordelik te benut. Ons moet met vaste beginsels, oop denke en doelgerigte optrede voortbou aan ’n volhoubare, selfstandige en vooruitstrewende Volksgemeenskap en grondgebied. Die verlede gee ons wortels. Die hede vra ons verantwoordelikheid. Die toekoms vereis ons visie.
Ds Sarel Roets
Ek glo in één Drie-Enige-God, wat volmaak goed en in geen opsig beperk is nie. God regeer doelgerig volgens sy onverbeterlike en onveranderlike Raadsplan. Hierbinne het Hy aan die mens wysheid, vermoëns en opdrag gegee om op aarde te leef en te regeer. Ek erken dat God die beskikker oor die lotgevalle van volke en nasies is. Hy het die Afrikanervolk hier aan die Suidpunt van Afrika gekoester om vir Hom 'n volk te wees en om Hom as rentmeesters vrugbaar te dien. Hiervoor is soewereine vryheid belangrik. Om uiteindelik 'n soewereine vry volk te wees sal ek elke geleentheid daaraan wy. Orania is 'n krities belangrike mylpaal op pad na soewereine vryheid! Ek beloof om my te beywer vir die vestiging en uitbouing van 'n effektiewe wetgewende-, kerklike, uitvoerende- en regsprekende gesag om soewereine vryheid deeglik te beplan en te verwesenlik. SO HELP MY GOD!
Annemarie van der Merwe
Ek is ’n Christen, ma van vyf kinders, fisioterapeut en gekwalifiseerde onderwyser. My beroepservaring het my geleer om krities en analities te dink, verskillende perspektiewe te oorweeg en aandag te gee aan besonderhede. Die Burgerskapprogram is as plig van die Burgerraad van groot belang. Die verkryging van verblyfreg en burgerskap moet met sorg en verantwoordbaarheid hanteer word. Daar moet voortdurend gewaak word dat die program getrou bly aan Orania se Christelike grondslag, waardes en strewe soos dit reeds en steeds gestalte vind in eie grondgebied, selfwerksaamheid en groeiende eie instellings. Ek wil help toesien dat toepaslike prosedures bestaan en dat dit met verantwoordbaarheid en onderskeidingsvermoë toegepas word, sonder om Orania se unieke aard, voortgaande ontwikkeling en langtermyndoelstellings uit die oog te verloor. Dit alles vanuit die oortuiging dat elkeen van ons geroep is om tot eer van God te leef.
Dr Carel Boshoff 4
Orania is die groeipunt vir Afrikanervryheid in ’n volkstaat, met die OVR as Orania se eiesoortige plaaslike regering in die middelpunt van ons vryheid-in-praktyk. Daarom is die vraag na Orania se status ten nouste met die erkenning van die OVR en sy bevoegdhede verweef. Ek is sedert die eerste OVR-verkiesing in Desember 2000 hierby betrokke, onder meer as lid van die komitee van owerheidsliggame wat destyds oor Orania se status onderhandel het. Met die hofbevel en onderhandelinge kon ons tyd koop om te groei, en vandag kom ons opponente voor ’n Orania wat tien maal groter as destyds is, te staan. As ek verkies word, sal my doel en strewe wees om steeds meer erkenning vir ons eiesoortige bedeling te verwerf, na binne én na buite. Orania se nuwe grondwet en die funksies van die Orania Oorlegsone is belangrike bakens op ons reis, maar nog lank nie ons bestemming nie.
Janneman Roux
Ek is sedert Augustus 2019 ’n permanente inwoner van Orania en reeds sedert 2015 ’n aandeelhouer. As rekenmeester van beroep dien ek tans as Hoof: Korporatiewe Dienste by die Orania Dorpsraad. Met my blootstelling aan Orania vanaf my laerskooljare, tesame met ’n grondige opvoeding in ons volkgeskiedenis en Afrikanerskap, stel ek my beskikbaar om Orania op ’n volgende vlak van diens te wees in die strewe na ons vryheidsideaal tot onafhanklike staat. My benadering is nugter, kalm en ontvanklik, met ’n fokus op die versterking van Orania se fondamente as vesting vir die Afrikaner. Ek wil bydra tot volhoubare groei deur elke ontwikkelingsfase doelgerig uit te bou, sodat ons einddoel vir toekomstige geslagte verwesenlik kan word. My uitgangspunt is vertroue op God se genade, met die strewe om alle beplanning en optrede aan Sy Woord te meet en Hom in voorspoed én teëspoed die eer te gee.
Jacobus Le Grange
Ek wil graag ‘n positiewe bydra lewer as verkose lid van die Burgerraad, as deel van die Orania Verteenwoordigende Raad, as ware verteenwoordiger van Orania in die ruimtes en vlakke van bevoegdhede waaroor die OVR beskik en gemagtig word. Dit ten doel om ons republikeinse vryheidstrewe uit te bou en te verwesenlik. Die Orania Grondwet, wat onlangs in werking gestel is, lê dit mooi uit. Ek wil graag help gestalte daaraan gee, met goeie onderlinge samewerking, maar onversetlik in ons ideale soos vervat daarin.
Pieter Bisschoff
Orania se strewe na vryheid is vir die langasems bedoel, daar is geen kitsoplossings in die verband nie. Wat ons as Oraniërs nou benodig is geen groot optrede of besluit nie, maar eerder om die klein dingetjies, in gehoorsaamheid aan die Here, konstant reg te bly doen. As ons daarin slaag, is elke dag een tree nader aan vryheid. Gelukkig kan ons hierin voort bou op al die harde werk wat ons voorgangers reeds met groot toewyding verrig het. Bid en werk, dit is waarmee ons nou moet besig wees.















