
Orania bestaan vanjaar reeds 35 jaar en dit met verskeie hoogte- en laagtepunte. Ons bestaan was en is gekenmerk met ’n streep in die sand, aangesien die gedagte van Orania vir mense verskeie emosies ontlok. Emosies soos ‘n moontlike terughunkering na apartheid en die verlede”, afsondering of haat, ensovoorts. Ek dink by die meeste mense skep dit ’n ongemaklikheid omdat Orania veroorsaak dat hulle hul gemaksone moet heroorweeg, hulle moet dink, hulle moet reageer of hulle moet kant kies. Orania kon oor sy bestaanstyd dit regkry om die streep in die sand goed te bestuur, hy kon die streep skuif sonder om dit oor te steek. Deur magsbalans te begryp kon hy deur dapperheid, die “eie” beginsel, harde werk, goeie verhoudings en diplomatieke vermoë en ’n vaste vertroue in sy Skepper, die gebied aan sy kant van die streep verruim. Sekere strepe het ons getrek soos dat ons nooit weer oor ’n ander volk wil regeer nie of dat daar oor ons as volk geregeer moet word nie en van daar die “eie” beginsel, maar ander strepe is vir ons getrek soos ’n onvriendelike opvoedingsomgewing, ens. Daar het egter die laaste 5 tot 6 jaar interessante gebeurtenisse plaasgevind, onder andere die Covid oomblik en die Trump uitvoerende bevel rakende die Afrikaner. Hierdie gebeurtenisse het die wêreld onder die streep in die sand verskuif. Dit het partye weerskante van die streep onkant gevang. Hoe interpreteer en hanteer ons hierdie gebeurtenisse? Hierdie situasie skep uitdagings vir Orania se besluitnemers met die bepaling van magsbalans en beweegruimte, aangesien ons teenstaanders erg geantagoniseer is. Aan die ander kant het Afrikaners weer hul identiteit gevind en het weer bietjie selfvertroue gekry, hulle glo nie meer al die leuens nie en wil hê ons moet sommer oor die streep tree. Die streep in die sand kan egter, myns insiens, op hierdie stadium nie oorskry word nie, maar moet ook nie te min getoets word nie, groot wysheid sal aan die dag gelê moet word. Orania sal homself ook moet toerus om soortgelyke geopolitieke gebeurtenisse te kan hanteer, aangesien ek reken, soos tegnologie uitbrei en die wêreld “kleiner” word, dit meer gaan plaasvind. Gepraat van wysheid, my vrou is besig om ’n boek te lees waarin sy ’n interessante feit raakgelees het oor die woord prioriteit en dat dit eers in die 20ste eeu ’n meervoud, prioriteite, geword het. Dit het my laat dink aan Matheus 6:33, “soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Mag ons hierdie 2026 ons Prioriteit reg hê en mag Hy vir vir ons byvoeg die wysheid en krag wat ons nodig het om te doen wat Hy vir ons bedoel het, waar Hy ons geplaas het. ’n Mooi en voorspoedige jaar vir elke Oraniër toegewens.




