
Die formaat van die Orania Skouspel was vanjaar as ‘n huiskonsert by die hoewe van Riaan en Marcel Jacobs aangebied. Deelnemers het weke lank geoefen en gepoog om elke griepkiem teë te werk. Nie almal was suksesvol nie, maar entoesiasme en talent is ‘n lieflike samesmelting wat elke okkasie tot vlakke van sukses kan ophelder. Dia van Staden, redakteur van Koerania en die Okkasie Hasie het in 2023 dié projek begin. “Ek begeer om die wonderlike talent van ons dorp na ‘n breër gehoor te neem, sodat ander Afrikaners kan deel in die kreatiewe waarde van ons dorp se mense,” sê Dia.
Die kwaliteit van die items wat deur individue, duo’s en groepe aangebied is, word wyd gerespekteer en aangemoedig. Riaan Grobler, skrywer, sanger en omroeper by PretoriaFM het self opgetree en saam met Dia die program gelei. Die briljante deelnemers was Marcel Jacobs, Anita Schutte, Emma de Villiers, Lana Jacobs, Alta Botes, Sumari de Wet, Abigail Bain, Stansia Rens, Esmien Kruger, Jaco Mulder, James Kemp en Frans de Klerk. Die kwartet het bestaan uit Anneli de Villiers, Anje Boshoff, Annemarie van der Merwe, Stansia Rens en Cornelia Holm. Die Karoo Klanke en Klingels Musiekskool het vir heerlike sop en broodjies gesorg en Theunie Kruger het gesorg dat die klanke oral perfek klink.










