
Dit is die maand waar daar meer vroulike bewustheid wêreldwyd geskep word. Die vraag aan 'n paar ma's en hul dogters was waarom 'n goeie verhouding tussen 'n ma en haar dogter belangrik is, en hoe hulle dit laat werk.
Zelda van Staden (45) en Yoraldé Grotius (24)
Vertroue en wedersydse respek vorm vir ons die fondament van ons verhouding. Ons besef dat elkeen uniek is, met ons eie ooreenkomste én verskille. Dit gee ons die vrymoedigheid om enige onderwerp te bespreek en eerlike opinies met mekaar uit te ruil. Ek besef dat Yoraldé nou 'n volwasse jong vrou is – onafhanklik, met haar eie huishouding en die vermoë om haar eie besluite te neem. Terselfdertyd weet ek dat my ma altyd daar is vir my – onvoorwaardelik, ongeag wat ek nodig het. Vanaf jong ma en klein dogtertjie het ons verhouding gegroei tot iets dieper: nie net ma en dogter nie, maar ook ware vriendinne.
Lurika (42) en Janel Cornelius (17)
Die verhouding tussen 'n ma en dogter is baie spesiaal... as daar tyd, liefde en aandag daaraan spandeer word en dit oorleef die tienerjare (hie hie!) skakel dit om in 'n vriendskap. Hierdie verbintenis is altyd in jou lewe - of dit goed is of sleg is. Dit is die moeite werd om dié verhouding te koester! Ons is baie eerlik met mekaar en praat oor dinge as dit krap. En dan geniet ons regtig mekaar se geselskap. Ons geniet dit om tyd saam te spandeer. Wanneer dit rof gaan is selfs die paar minute in die bakkie op pad dorp toe of terug opvangtyd. Ek mag nie terwyl ons tweetjies dorp toe ry stemnotas stuur of antwoord nie – dit is dan háár tyd!
Maritza (44) en Minqie du Plessis (9)
As jy die wêreld wil verander, moet jy eers jou skoene in die sitkamer optel! Dit moet nogal gereeld gesê word. As jy nie uitnemend kan wees nie, wees die uitsondering deur goed te wees vir ander. Wees braaf, bly gaaf! Dis altyd beter om eerlik te wees. Ons is almal net mense en om foute te maak is hoe mens groei. Ons maak foute en word kwaad, maar later kry ons wel 'n manier om daaroor te lag. Mens lag soms die lekkerste as jy vir jouself kan lag! Ek herinner Minqie gereeld: “Onthou jou ma is ook net 'n "meisie" wat vir die eerste keer die lewe op haar eie unieke ouderdom ervaar.” #lewe.net







