
Vier jaar gelede, met die verkiesing van 'n nuwe Orania Verteenwoordigende Raad (OVR), is 'n monumentale taak aangepak: die opstel van 'n amptelike Grondwet vir Orania. Die OVR het besef Orania kort 'n fundamentele dokument, en 'n grondwetkomitee is daargestel. Alhoewel Orania se status sedert 'n hofsaak in 2000 gegrond is, het die proses om 'n Grondwet te formaliseer werklik eers die afgelope twee jaar momentum gekry. Die komitee, bestaande uit denkers soos Jan Beyers, Carl Boshoff, dr. Philip Nothnagel, Gawie Snyman, Jan van Zyl en Christiaan van der Merwe se eerste stap was om die kernbeginsels te identifiseer. Die vraag was of 'n Grondwet selfs nodig is, aangesien lande soos Engeland daarsonder funksioneer. Jan Beyers, sameroeper van die komitee, vertel: “Daar is egter besluit dat die dokument nie net moet weerspieël “wat ons is nie, maar wat ons wil wees”. Uit sowat 30 tot 40 voorgestelde kernbeginsels het die komitee daarna 'n inhoudsopgawe opgestel, waarna elke punt gedebatteer en sleutelwoorde, soos 'vryemark' binne die ekonomiese konteks, geïdentifiseer is.” Ná 'n uitputtende proses is 'n konsep van ongeveer 40 bladsye opgestel. Die proses is deurspek met die wysheid van Spreuke 11:14. Die komitee wou meer as bloot 'n dokument uitstuur en kommentaar terug ontvang; hulle wou ware openbare deelname hê. Die pad vorentoe en tydsraamwerk
Die komitee het insae van die gemeenskap ingewin, wat gelei het tot 13 registrasies en 10 skriftelike voorstelle van sowat 40 bladsye, wat baie goeie insette gelewer het. Hierdie terugvoer word nou deur die Grondwetkomitee verwerk. Die tydsraamwerk: · Einde November 2025: Grondwetkomitee verwerk alle insette. · Einde Januarie 2026: Geleentheid vir OVR om terugvoer te gee. · Februarie 2026: Publieke deelnameproses vir die hersiene konsep. · Einde Mei 2026: Finale weergawe moet deur die OVR goedgekeur word. · Julie 2026: Dokument word vir publikasie en implementering versprei. Die hoop word uitgespreek dat die Grondwet die raamwerk vir die verkiesing van die nuwe OVR op 4 November 2026 sal skep. Jan vertel: “Die Grondwet moet die huidige stormingsfase van groei aanspreek en 'n struktuur skep wat die balans tussen die OVR se publiekregtelike en die Orania Aandeleblok RF (Edms) Bpk (OAB), Kambro, Vluytjeskraal272 Eienaarsvereniging MSW en Vluytjeskraal Landgoed Dienste (Edms) Bpk se privaatregtelike rol duidelik beskryf. Die strewe is na 'n Federalistiese sisteem, waar die staat so klein moontlik gehou word en besluitneming so laag as moontlik na inwoners afskuif. Die doel is dat God bo-aan die hiërargie gestel word, en die OVR aan die onderpunt, met alle ander instellings in die middel.” Volgens Beyers moet die Grondwet uiteindelik die hele Orania saamsnoer, leiding gee aan die OVR oor hul posisie, en 'n duidelike blik op die toekoms skep. Die sameroeper van die komitee het die proses as uitputtend maar bevrydend ervaar, en sien daarna uit dat die finale dokument mense se denke sal oopmaak om te besef hulle dink eintlik dieselfde. “Dit is belangrik dat ons emosioneel intelligent met die saamstel van die Grondwet omgaan.”




